Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerste aan die beurt is krieket: Die Pakistanse draaibouler Usman Tariq glo hulle kan steeds kwalifiseer vir die Super Agts van die T20-Wêreldbekertoernooi. Hulle het Sondag met 61 lopies teen hul buurland, Indië verloor na oorwinnings oor Nederland en Amerika. Pakistan moet Namibië vandag in Colombo klop. Indië is tans eerste in Groep A en het reeds gekwalifiseer, met Amerika tweede danksy ‘n beter lopietempo as Pakistan.
# Rugby: Skotland kan moontlik sonder drie van sy spelers wees in Saterdag se Sesnasies-wedstryd teen Wallis in Cardiff. Die flank Jamie Ritchie kan moontlik vir ‘n lang tyd op die kantlyn wees nadat hy verlede naweek sy skeen gebreek het teen Engeland, terwyl daar steeds onsekerheid is oor die fiksheid van die agtsteman Jack Dempsey en die skrumskakel Jamie Dobie. Afrigter Gregor Townsend sal môre sy span aankondig. Skotland is tans tweede op die punteleer na Frankryk nadat hulle teen Italië verloor en Engeland geklop het.
# Sokker: Real Madrid se Kampioeneliga-uitspeelwedstryd teen Benfica is vir tien minute gestaak toe Vinicius Junior geweier het om verder te speel ná ‘n beweerde rassistiese opmerking deur die Argentyn Gianluca Prestianni van Benfica. Die Brasiliaan het Madrid toe pas laat voorloop. Skeidsregter Francois Letexier het die wedstryd tydelik gestaak. Dit het in die 60ste minuut hervat en Madrid het 1-0 geseëvier. Trent Alexander-Arnold van Madrid het die voorval veroordeel:
# Paralimpiese Spele: Die Internasionale Paralimpiese Komitee sê ses Russiese en vier Belarussiese atlete sal toegelaat word om onder hul landsvlae deel te neem aan volgende maand se Winterspele. Albei lande is verbied om aan Paralimpiese kompetisies deel te neem ná Moskou se inval in Oekraïne in 2022. Hulle het egter volle lidmaatskap teruggekry nadat lid-organisasies in September 2025 gestem het dat hul gedeeltelike skorsing opgehef word. Dis die eerste keer sedert 2014 se Spele in Sochi dat die Russiese vlag op die Spele sal wapper.
En Olimpiese Spele: Los Angeles se burgemeester, Karen Bass, het die voorsitter van die reëlingskomitee vir 2028 se Spele, Casey Wasserman, versoek om te bedank. Dit volg na onthullings oor sy ontmoetings met die veroordeelde sekshandelaar Ghislaine Maxwell, wat voorheen die meisie van die oorlede pedofiel Jeffrey Epstein was. Wasserman ontken ’n persoonlike of sakeverhouding met Epstein en die komitee het verlede week ná ’n hersiening besluit dat hy in sy posisie sal aanbly. Bass sê egter die raad se besluit is betreurenswaardig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….