Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Perth, bekend vir sy sterk ondersteuning van die Springbokke, sal in September die wêreldkampioen se gasheer wees vir die Mandela-uitdaagplaat teen Australië. Dit is een van ses tuistoetse wat Rugby Australië vir die Wallabies bevestig het. Perth sal ook in Julie ‘n toets teen Italië aanbied in die eerste Nasieskampioenskap. Die Aussies speel eers teen Ierland in Sydney en Frankryk in Brisbane. Japan sal in Augustus die Wallabies in Townsville aanpak, gevolg deur die Bledisloebeker-wedstryd teen die All Blacks in Sydney.
Nog rugbynuus: Frankryk het Engeland in die derde plek op die wêreldranglys vervang nadat die Engelse weereens teen Skotland verloor het op hul tuisveld, Murrayfield in Edinburgh. Die Sesnasies-nederlaag van 31-20 het die verdedigende kampioen bevoordeel, al het hy geen ranglyspunte verdien toe hy Wallis 54-12 geklop het nie. Die Springbokke en die All Blacks is steeds in die boonste twee posisies. Ierland is vyfde nadat hy Italië geklop het, gevolg deur Argentinië, Australië en Fidji. Skotland is negende en Italië tiende.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner MJ Daffue het die NTT Data Pro-Am op die Fancourt-gholflandgoed in George in die Wes-Kaap gewen. Hy het drie onder baansyfer 69 aangeteken om 16 onder baansyfer vir die week te haal en ‘n voorsprong van vier houe op vier ander spelers, wat saam tweede was. Daffue sê hy moes geduldig wees, maar dit was uiteindelik tot sy voordeel:
# Krieket: Australië is onder groot druk in vanmiddag se T20-Wêreldbeker-groepwedstryd teen die mede-gasheerland, Sri Lanka, in Pallekele. Die Aussies het vroeër onverwags teen Zimbabwe verloor en benodig vandag ‘n oorwinning om hul kanse te verbeter om vir die Super Agt-fase te kwalifiseer. Indien hulle weer verloor, sal hulle op ander groepuitslae moet staatmaak om deur te dring. Die ander gasheerland, Indië, en die Wes-Indiese Eilande is reeds deur na die volgende ronde. Die groepfase eindig Vrydag en die Super Agt begin Saterdag.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, sê hy het hy steeds swakpunte in sy spel ondanks sy vele suksesse. Die 22-jarige Spanjaard, wat verlede maand sy loopbaan-Grand Slam voltooi het deur die Australiese Ope te wen, speel dié week in die Katarse Ope in Doha. Alcaraz, wat sy veldtog môre teen die Fransman Arthur Rinderknech open, sê hy fokus net op verbetering in elke toernooi:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….