Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die uitkloprondes van die S-A-20 begin vandag. Die boonste twee spanne op die punteleer, die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, en Durban Super Giants, speel vanaand in Kaapstad in die eerste kwalifiseerder. Die wenner dring regstreeks deur na Saterdag se eindstryd, ook op Nuweland. Die verloorder kom in Donderdag se tweede kwalifiseerder te staan teen die wenner van môre se elimineerder. Dit word op die Wanderers in Johannesburg gespeel tussen Paarl Royals en Joburg Super Kings, wat onderskeidelik derde en vierde geëindig het.
Nou, ander krieket: Die jong Proteas speel vandag in Benoni, Gauteng, teen Indië om ‘n plek in Sondag se eindstryd van die Onder 19-Wêreldbekertoernooi. Die gasheer het die Super Sesse-afdeling in die tweede plek in Groep 2 geëindig na Australië, wat teen Pakistan te staan kom in môre se tweede halfeindstryd op dieselfde veld. Indië en Pakistan het onderskeidelik eerste en tweede geëindig in Groep 1. Die eindstryd word ook op Willowmoorepark aan die Oos-Rand gespeel. Indië het die toernooi al ‘n rekord vyf keer gewen.
# Vervolgens, rugby: Die Walliese Rugby-unie beraadslaag volgens berigte met SA Rugby oor die moontlikheid van ‘n wedstryd op Twickenham in die laaste week van Junie. Dit is dieselfde plek waar die Springbokke die All Blacks verlede jaar in ʼn Wêreldbeker-opwarmingswedstryd met 35-7 verpletter het. Vir Wallis sal die wedstryd as opwarming dien voor hulle Australië in Julie in ʼn reeks van twee toetse takel. Die wedstryd sal na verwagting die naweek ná die Verenigde Rugbykampioenskap se eindstryd plaasvind.
# Volgende aan die beurt is motorsport: Red Bull se Formule Een-span het ʼn onafhanklike ondersoek begin na sy spanhoof, Christian Horner, ná bewerings van onbehoorlike gedrag. Dit volg nadat ʼn personeellid ʼn klag teen hom ingedien het. Horner ontken die bewerings. Red Bull sê hy beskou hierdie sake in ʼn uiters ernstige lig en die ondersoek sal so gou moontlik afgehandel word. Volgens berigte sal Horner aanbly as span- en uitvoerende hoof van Red Bull Racing terwyl die ondersoek aan die gang is.
# Ons sluit af met die Olimpiese Spele: Weerkenners waarsku Parys kan uitermate hoë temperature verwag tydens vanjaar se Spele. ‘n Studie oor klimaat-nabootsings waarin die ergste scenario’s voorspel word, dui op die risiko van ‘n twee-weke-lange hittegolf wat die rekord warm tydperk sal oortref wat in 2003 in die Franse hoofstad bereik is. Die hoofskrywer, Pascal Yiou, het aan AFP gesê die klimaat het verander en beleidmakers moet bewus wees toestande wat selfs erger is as in 2003 is inderdaad ‘n moontlikheid. Die Spele word in die middel van die Europese somer gehou, van 26 Julie tot 11 Augustus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….