Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met heelwat rugbynuus: Afrigter Cecil Afrika het die beproefde kern van die Springbok-vrouespan behou vir die naweek se Sewes-Twee-toernooi in Kenia. Tien van die spelers was in die groep wat verlede maand die Sewes-Drie-toernooi in Dubai gewen het, wat hulle na die volgende kwalifiserende fase laat vorder het. Die blitsvinnige Shannon-Lee Windvogel kan haar buiging in Nairobi maak in die plek van die beseerde Vianca Boer, terwyl Lerato Makua oorneem by Zintle Mpupha, wat diens doen by die Bulle-Daisies. Die ervare Nadine Roos sal die groep lei.
Hollie Davidson van Skotland sê intussen dis ‘n reuse-eer om wedstryde in die Sesnasies-reeks te hanteer. Die 33-jarige word Saterdag die eerste vroue-skeidsregter van ‘n manswedstryd in die Sesnasies wanneer Ierland Italië in Dublin ontvang. Sy het tot dusver geblaas in 47 toetse – 34 vroue- en 13 mans-wedstryde – in die Olimpiese en die Statebondspele, asook twee vroue-Wêreldbekertoernooie. Davidson hoop om jong meisies en seuns te inspireer:
Intussen keer kaptein Maro Itoje keer terug na Engeland se opdrafspan vir Saterdag se Sesnasies-kragmeting teen Skotland in Edinburgh. Die 31-jarige speler het verlede naweek in die tweede helfte as plaasvervanger uitgedraf in die sege van 48-7 oor Wallis. In die ander verandering maak Jamie George, wat in Itoje se afwesigheid die eerste keer as kaptein opgetree het, plek vir Luke Cowan‑Dickie as haker. Losskakel Fin Smith, wat van ‘n kuitbesering herstel het, is op die bank in Marcus Smith se plek. Engeland wil hul eerste oorwinning in Edinburgh sedert 2020 behaal.
# Krieket: Die Australiese snelbouler, Nathan Ellis glo sy span kan steeds die T20-Wêreldbeker wen ten spyte daarvan dat hulle sonder hul ervare snelboulers is. Pat Cummins en Josh Hazlewood is beseer en Mitchell Starc het uitgetree. Ellis lei die snelboulaanval saam met Xavier Bartlett en Ben Dwarshuis. Hy sê hulle het twee jaar saam sonder die ervare trio gespeel, en hul sal hulle ook in die kortste formaat regkom. Australië speel vandag teen Ierland in hul eerste groepwedstryd in Colombo, Sri Lanka.
# En laastens, Olimpiese Spele: Die Oekraïnse skiër Vladyslav Heraskevych sal nie toegelaat word om sy sogenaamde gedenk-valhelm te dra wanneer hy aan die Milano Cortina Winterspele in Italië deelneem nie. Die valhelm bevat foto’s van kinders wat dood is sedert Rusland se inval in 2022. Die Internasionale Olimpiese Komitee sê hulle verstaan atlete se begeerte om vriende te onthou wat in die konflik dood is, maar Heraskevych se valhelm oortree die riglyne. Hy sal toegelaat word om ‘n gewone swart rouband te dra wanneer hy meeding.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….