Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die laaste T20 tussen die Protea-vroue en Pakistan op die 16de sal nou in Benoni, Gauteng, gespeel word nadat dit van Kimberley verskuif is. Die Noord-Kaapse hoofstad se krieketveld het nie aan die vereiste internasionale norme en standaarde vir wedstrydgereedheid voldoen nie. Krieket Suid-Afrika sê omvattende inspeksies die afgelope maand het verskeie kernbelangrike tekortkomings bepaal wat verband hou met die speeloppervlak, die buiteveld, oefengeriewe en algehele voldoening. Die eerste T20 vind Dinsdag in Potchefstroom plaas en die tweede volgende Vrydag ook in Benoni.
# Rugby: Vanjaar se Sesnasies-kompetisie begin vanaand in Parys met die verdedigende kampioen, Frankryk, en Ierland wat kragte meet. Die wedstryd begin tien-oor-tien, Suid-Afrikaanse tyd, op die Stade de France. Saterdagmiddag verwelkom Italië vir Skotland op die Stadio Olimpico in die hoofstad, Rome, en Engeland en Wallis pak mekaar diesefde aand op Twickenham in Londen. Die kompetisie word vanjaar van sewe na ses naweke verkort, met die laaste ronde wat die 14de van volgende maand plaasvind.
# Sokker: Marokko se beheerliggaam gaan appelleer teen dissiplinêre sanksies wat die Afrika-liggaam CAF hom opgelê het na verlede maand se chaotiese Afrikabeker-eindstryd teen Senegal. Die gasheer het in bykomende tyd 1-0 verloor nadat Senegal 14-minute lank van die veld gestap het, asook ‘n ontoelaatbare doel en onwettige veldbetredings. CAF het Marokko met vyf-miljoen-rand beboet en spelers, insluitend Achraf Hakimi, vir wedstryde geskors. Die federasie het die sanksies as oneweredig bestempel, terwyl CAF volhou dit sal van krag bly.
Ander sokkernuus: Manchester City is gemaklik deur na hul tiende Carabaobeker-eindstryd nadat hulle Newcastle United 3-1 verslaan het op die Etihad-stadion in die tweede halfeindronde-kragmeting. Dit gee hulle ‘n algehele oorwinning van 5-1 na die oorwinning van 2-0 in die eerste wedstryd. Omar Marmoush het twee doele aangeteken en Tijjani Reijnders een om die oorwinning te verseker vir Pep Guardiola se span. Anthony Elanga het Newcastle se enigste doel aangeteken. City en Arsenal pak mekaar op 22 Maart in die eindstryd op Wembley.
# En laastens, Olimpiese Spele: Die voormalige plaaslike Olimpiese kampioene, Alberto Tomba en Deborah Compagnoni, gaan die eer hê om die Olimpiese vlamme aan te steek wanneer die Milano Cortina-Winterspele môre in Noord-Italië begin. Die atlete, nou in hul 50’s, het albei drie goue medaljes verower en word gesien as van die gewildste Italiaanse atlete van hul era. Tomba sal die vlam aansteek aan die einde van die openingsplegtigheid in Milaan, terwyl Compagnoni ’n tweede vlam sal aansteek in die mede-gasheerstad, Cortina d’Ampezzo.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….