Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-sewespeler Ryan Oosthuizen sê hulle is vol vertroue dat hulle die naweek beter sal vaar in die wêreldreekstoernooi in Perth, Australië. Die Blitsbokke het verlede naweek in Singapoer vierde geëindig. Suid-Afrika is in Groep A saam met Spanje, Fidji en Argentinië. Oosthuizen, wat in sy 60ste toernooi sal speel, sê hy is tevrede met die span se besprekings wat hoofsaaklik op verantwoordelikhede en standaarde gefokus het:
Ander rugbynuus is die Prendergast-broers, Sam en Cian, sal die eerste keer saam wees in Ierland se beginspan vir môre se Sesnasies-openingswedstryd teen Frankryk op die Stade de France in Parys. Cian maak sy buiging in die kompetisie op flank , terwyl Sam die nommer tien-trui sal dra. Hoofafrigter Andy Farrell het sewe veranderinge gemaak aan die opdrafspan wat in November in Dublin 24-13 teen die Springbokke verloor het. Ierland se twee voorkeurvleuels, Mack Hansen en James Lowe, is weens beserings nie beskikbaar nie.
# Krieket: Die tweemalige T20-Wêreldbekerkampioen, Engeland, is onder druk na sy uiters swak vertonings in die reeks om die As teen Australië, en in die eendag-Wêreldbeker, asook die vorige T20-skouspel twee jaar gelede. Die span spog met verskeie wêreldgehalte-kolwers soos Jos Buttler, Phil Salt en Ben Duckett, terwyl kaptein Harry Brook en Tom Banton ernstige skade in die middelorde kan aanrig. Kenners wys egter op ‘n moontlike swakpunt met die snelboulers, met Mark Wood wat beseer is en Jofra Archer wat pas van ‘n besering herstel het.
# Gholf: Die Amptelike Wêreld-gholfranglysraad sê slegs die top tien spelers in LIV-gholf se 14 individuele enkelhou-toernooie sal vanjaar punte op die wêreldranglys verdien. Dis die eerste keer sedert die Saoedi-ondersteunde toernooi in 2022 gestig is, dat spelers geleentheid kry om punte op die lys te kry. Die raad sê dit word tot die top tien beperk omdat daar talle gebiede is waar LIV-gholf nie aan standaarde voldoen nie. Die LIV-seisoen begin vandag in Saoedi-Arabië.
# En laastens, sokker: Arsenal is ‘n stap nader aan sy eerste groot trofee sedert 2020 nadat hy Chelsea 4-2 geklop het in die halfeindronde van die Carabao-bekerkompetisie. Gunners het die eerste kragmeting 3-2 gewen en Kai Havertz se doel in beseringstyd van die tweede wedstryd het Mikel Arteta se span laat wen. Arsenal speel in die eindstryd teen Manchester City of Newcastle. Arteta sê hulle verdien ʼn plek in die eindstryd:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….