Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus hoop Kaapstad sal Saterdag Johannesburg se voorbeeld volg deur die All Blacks se haka te respekteer voor die tweede toets. Hy het die Hoëveldse toeskouers gevra om stil te bly tydens die uitdaging voor die eerste toets nadat uitroepe van “olé olé” die haka oordonder het tydens vorige wedstryde in Suid-Afrika. Erasmus sê die skare was verlede naweek grotendeels stil, terwyl rumoerige toeskouers stilgemaak is deur diegene rondom hulle. Hy sê die Bokke beskou dit as ‘n eer om die haka te aanskou.
Nog rugbynuus: Die Stormers-23 word versterk deur die terugkeer van die heelagter Dylan Miller en die slot Gary Porter voor môre se laaste Curriebeker-groepswedstryd teen die Leeus in Johannesburg. Eric Basson begin as losvoorspeler in die plek van die beseerde Divan Fuller, terwyl Luke Burger na binnesenter skuif nadat Cornel Smit beseer is. Die Junior Springbok-flank Gert Kemp is die eerste keer in die opdrafspan. Die Stormers-23 moet wen om die halfeindronde te haal.
# Krieket: Suid-Afrika speel môre teen die gasheer in die openingswedstryd van die T20-driehoekige reeks in die Namibiese hoofstad, Windhoek. Die ander deelnemer is die ander mede-gasheer van volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi, Zimbabwe. Elke span meet twee keer kragte met die ander twee en die twee top-spanne speel in volgende Sondag se eindstryd. Björn Fortuin sal die jong Protea-span aanvoer in die afwesigheid van verskeie meer ervare spelers, met opwindende spelers soos Dewald Brevis, Jordan en Rubin Hermann, Duan Jansen, Kwena Maphaka en Lutho Sipamla in die groep.
# Tennis: Die Duitser Alexander Zverev en Aryna Sabalenka van Belarus is die top-gekeurdes in die Amerikaanse Ope-enkelspelkompetisies, wat Sondag op Flushing Meadows in New York begin. Zverev is eerste gekeur in die mansloting in die afwesigheid van die beseerde wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië. Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz van Spanje, is tweede gekeur, gevolg deur die Kanadees Felix Auger-Aliassime en die viermalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Elena Rybakina van Kazakstan is die tweede-gekeurde vrou, gevolg deur die Amerikaners Jessica Pegula en Coco Gauff.
# En LIV Gholf skaal sy bedrywighede af en gaan volgende week begin om die meeste van sy 300 werknemers af te lê. Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds het sedert Junie 2022 meer as 79,76-miljard-rand belê, maar gaan sy befondsing einde vanjaar beëindig. Die LIV-seisoen het ‘n week vroeër geëindig nadat die span-kampioenskap in Michigan afgelas is. Uitvoerende hoof Scott O’Neil sê onderhandelings duur voort met ‘n voornemende nuwe hoofbelegger en verskeie minderheidsbeleggers:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….