Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met branderry: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur ontken die openbare mening dat minister Gayton McKenzie finansiële ondersteuning onttrek het aan die Wêreld-branderry-liga se kampioenskap wat in Jeffreysbaai sou plaasvind. Die organiseerders sê vanjaar se byeenkoms kan weens ‘n gebrek aan fondse nie aangebied word nie. Woordvoerder Zimasa Velaphi sê geen amptelike versoek is aan die nasionale regering voorgelê vir fondse, waarborge of verwante dienste nie:
# Rugby: Die Blitsbokke se hulpafrigter, Renfred Dazel, sê die span se sukses in hierdie naweek se wêreldreeks-sewestoernooi in Singapoer sal afhang van hul vermoë om onverwagte struikelblokke te hanteer. Suid-Afrika is tans boaan die punteleer na ‘n middelmatige vertoning in die eerste toernooi in Dubai voor hulle in Kaapstad gewen en ook meer drieë as enige ander span gedruk het. Die Blitsbokke is sonder die ervare sleutelspelers Selvyn Davids, Ronald Brown en Dewald Human, maar Dazel sê die groep se diepte kan dit teenwerk.
# Netbal: Die Protea-afrigter Jenny van Dyk sê die reeks van drie toetse teen Engeland laat hulle toe om aan die span se diepte te werk. Daar is twee nuwelinge in die groep van 15, Thulisile Maduna en Tinita van Dyk, en Suid-Afrika probeer meer moontlikhede vir die doelsirkels kry. Van Dyk sê hulle maak gereed vir die Statebondspele in Julie, maar ook vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië. Die eerste wedstryd in die reeks vind môreaand in die Ellisparkse binnenshuise arena in Johannesburg plaas.
# Tennis: 2023 se naaswenner, Elena Rybakina, is deur na die Australiese Ope se halfeindronde. Die vyfde-gekeurde Kazak het die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek, verslaan en ʼn stokkie gesteek voor die Pool se strewe na ʼn loopbaan-Grand Slam. Rybakina het in 2023 se eindstryd teen Aryna Sabalenka van Belarus verloor. Sy pak Jessica Pegula vir ʼn plek in Saterdag se eindstryd nadat die Amerikaner haar landgenoot Amanda Anisimova geklop het om haar eerste halfeindronde in Melbourne te haal. In die ander halfeindstryd spook Sabalenka en Elina Svitolina van Oekraïne sake uit.
Die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, het na die halfeindronde deurgeskraap toe Lorenzo Musetti weens ‘n besering aan hulle kwarteindstryd moes onttrek. Die Italianer het ‘n bobaan-besering opgedoen terwyl hy 6-4, 6-3, 1-3 voorgeloop het. Djokovic, wat mik na sy 25ste Grand Slam-enkelspeltitel, speel volgende teen die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, of die Amerikaner Ben Shelton. Djokovic sê hy voel jammer vir Musetti:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….