Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Lhuan-dré Pretorius en Eathan Bosch is ingesluit by die Protea-groep wat die Windies vanaand in die eerste van drie T20s in die Paarl pak. Hulle vervang Quinton de Kock, Marco Jansen en Tristan Stubbs van Sunrisers Eastern Cape wat in die eindstryd van die SA20 gespeel het. David Miller herstel nog van ʼn liesbesering en is nie beskikbaar nie. Anrich Nortjé, Dewald Brevis, Keshav Maharaj en Lungi Ngidi is beskikbaar, al het hulle in die eindstryd gespeel. Die reeks dien as voorbereiding vir die komende T20-Wêreldbekertoernooi.
Pretoria Capitals se kaptein, Keshav Maharaj, glo intussen die SA20 se hoogsbetaalde speler, Dewald Brevis, gaan ‘n groot faktor wees in die Wêreldbekertoernooi wat volgende Saterdag in Indië en Sri Lanka begin. Brevis het uitgeblink in die laaste wedstryde van die kompetisie, met onder meer ‘n honderdtal in die eindstryd teen Sunrisers. Dit het sy algehele aantal lopies op 370 te staan gebring. Maharaj, wat sy kaptein was, sê die 22-jarige Brevis het volwassenheid getoon in die laaste paar wedstryde en kan net beter word.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê noukeurige beplanning en skeppende denke is nodig in die uitdagende 18 maande in aanloop tot volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika se seisoen skop in Julie af met die eerste Nasies-kampioenskap. In Augustus begin ’n geskiedkundige reeks van vier toetse tussen die Bokke en die All Blacks. Erasmus sê dis belangrik om spelers te bestuur wat oor verskillende kompetisies versprei is:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, is die vierde agtereenvolgende jaar deur na die Australiese Ope se halfeindronde. Die Belarussiese speler het die Amerikaner Iva Jovic geklop. Sabelenka speel volgende teen die derde-gekeurde Amerikaner Coco Gauff of Elina Svitolina van Oekraïne vir ‘n plek in die eindstryd. In die mans-afdeling het Alexander Zverev die Amerikaner Learner Tien in vier stelle verslaan om die halfeindronde die vierde keer te haal. Die Duitser sal sake uitspook teen die top-gekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz of die plaaslike speler Alex de Minaur.
# En sokker: FIFA se voormalige hoof, Sepp Blatter, stel voor dat ondersteuners vanjaar die Wêreldbeker-wedstryde in Amerika moet boikot om veiligheidsredes. Hy steun die kommentaar van die teenkorrupsie-prokureur, Mark Pieth, wat vroeër saam met FIFA aan potensiële hervormings gewerk het. Pieth verwys na die moord op ‘n betoger, Renee Good, wat vroeër die maand deur ‘n Amerikaanse immigrasie-agent in Minneapolis doodgeskiet is as een rede om nie na Amerika te reis nie. Blatter het op sosiale media gesê hy dink Pieth het die situasie reg opgesom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….