Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: ‘n Oefengroep van 42 Junior Springbokke trek vandag in Stellenbosch in die Wes-Kaap saam as ‘n groot stap in vanjaar se SA Onder 20-veldtog. Die groep sluit talle gereelde spelers in, maar ook heelwat nuwe talent uit die onder 18’s en 13 spelers wat einde verlede jaar deel was van die onder 19’s wat in Frankryk en Ierland gaan toer het. Die afrigter van die Junior Bokke, Kevin Foote, sê dis belangrik dat die jong spelers die grondslag ontvang van die kultuur en omgewing waarin hulle hul beste kan lewer.
# Die Stad Kaapstad sê verkeers- en openbare veiligheidsdienste maak gereed vir ‘n besige sportnaweek. Die Stormers is Saterdag gasheer vir die Haaie op die Kaapstad-stadion, en die SA20-krieketeindstryd vind Sondag op Nuweland plaas. Metrorail-dienste na Nuweland sal beskikbaar wees om verkeersopeenhopings te verlig. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê paaie rondom die stadions mag dalk die hele naweek geraak word:
Die SA20 se vierde seisoen het die uitspeelrondes bereik. Die twee spanne bo-aan die punteleer, die tweemalige kampioen, Sunrisers Eastern Cape, en Pretoria Capitals, speel vandag in Durban in die eerste kwalifiseerder. Die wenner gaan regstreeks deur na Sondag se eindstryd in Kaapstad, terwyl die verloorder nog ‘n kans kry in Vrydag se tweede kwalifiseerder op die Wanderers in Johannesburg. Hulle kom te staan teen die wenner van môre se uitspeelstryd tussen die derde en vierde-geplaasde spanne, Paarl Royals en Joburg Super Kings, in Centurion.
Steeds by krieketnuus: Nieu-Seelandse keurders is bekommerd oor die fiksheid van twee spelers net weke voor die begin van die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Die snelbouler Adam Milne is beseer toe hy vir Sunrisers Eastern Cape in die SA20 gespeel het, terwyl die veelsydige Michael Bracewell Sondag ‘n besering opgedoen het tydens die derde eendagwedstryd teen Indië. Die veelsydige Kristian Clarke is ingesluit by die groep vir die T20-reeks teen Indië. Die Wêreldbekertoernooi begin op 7 Februarie, met Nieu-Seeland wat die volgende dag teen Afganistan te staan kom.
# En motorsport: Mercedes se Formule Een-span het aangekondig sy direkteur van motorontwerp, John Owen, vertrek later vanjaar. Hy was betrokke by nege motors wat die wêreldkampioenskap gewen het. Die span sê Owen het besluit om ‘n blaaskans van die sport te neem en sal ‘n tydperk van sogenaamde tuinmaakverlof begin, waartydens hy nie by enige ander F1-span mag aansluit nie. Die 52-jarige Britse ingenieur sal eers die oorgang na sy opvolger, ingenieursdirekteur Giacomo Tortora, behartig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….