Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het ‘n samewerkingsooreenkoms met FIFA Development Zurich AG onderteken vir die totstandkoming van ‘n ten volle ondersteunde FIFA-streekontwikkelingskantoor in Johannesburg. Woordvoerder Zimasa Velaphi sê dit bied ‘n raamwerk vir Suid-Afrika om die wêreldbeheerliggaam se administratiewe bedrywighede in die land te bemiddel terwyl FIFA verantwoordelikheid aanvaar vir die befondsing en personeel van die kantoor, wat Suid-Afrika en buurlande sal bedien:
Nog sokker: Senegal het Marokko in bykomende tyd met 1-0 geklop en hul tweede Afrikabeker-titel opgeraap. Die eindstryd is in omstredenheid gehul toe Senegal se spelers van die veld gestap het toe die gashere ‘n omstrede strafskop in beseringstyd gekry het met die telling op nul-elk. Na aanmoediging deur Sadio Mane het die Senegalese na 20-minute en Brahim Diaz se strafdoel is deur doelwagter Edouard Mendy gekeer. In bykomende tyd het Pape Gueye se doel Senegal se oorwinning beklink.
# Rugby: Die Springbok-vrouesewes is as kampioen gekroon van die eerste Wêreldrugby Sewes 3-toernooi in Dubai nadat hulle Argentinië 12-5 verslaan het in die eindstryd. Suid-Afrika het die toernooi onoorwonne afgesluit en vir die Sewes 2-reeks gekwalifiseer. Die Tsjeggiese Republiek het Pole 24-14 gewen om die derde plek op die podium in te palm. Die Bokke se afrigter, Cecil Afrika, het sy span se verdediging dwarsdeur die naweek geprys:
# Krieket: Sunrisers Eastern Cape het die verdedigende kampioen, MI Cape Town, met sewe paaltjies verslaan in hul SA20-kragmeting in Gqeberha. Reeza Hendricks se onoorwonne 70 het MI Cape Town 148 vir ses besorg. Daarna het Quinton de Kock en Matthew Breetzke ʼn vennootskap van 109 om die tweede paaltjie gedeel en Sunrisers het die teiken bereik met een bal oor. Sunrisers het onder die top-twee klaargemaak en MI Cape Town uitgeskakel wat met ʼn bonuspunt moes wen om ʼn kans te staan om die uitspeelronde te haal.
# En tennis: Die driemalige naaswenner van die Australiese Ope, Daniil Medvedev van Rusland, is deur na die tweede ronde in Melbourne nadat hy die Nederlander, Jesper de Jong, geklop het. Die sewende-gekeurde Felix Auger-Aliassime van Kanada moes in sy eersteronde-wedstryd tou opgooi weens krampe. Die plaaslike gunsteling, Alex de Minaur, het die Amerikaner Mackenzie McDonald gemaklik afgeransel. In die vroue-afdeling het die Amerikaner Coco Gauff haar strewe na ʼn eerste Australiese Ope-titel goed afgeskop met ʼn sege oor Kamilla Rakhimova van Oesbekistan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….