Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Europese Professionele Klubrugby het Ulster ‘n bonuspunt-oorwinning van 28-0 oor die Cheetahs toegeken nadat hulle derde-ronde-kragmeting in die Uitdaagbeker gister afgestel is. Die wedstryd sou oorspronklik op die NRCA-stadion in Amsterdam, Nederland, plaasvind, maar gure winterweer het die organiseerders gedwing om dit na Duke Rugbyklub verskuif. Daardie veld ook was nie geskik nie. Die liggaam sê as die gashere was dit die Cheetahs se verantwoordelikheid om seker te maak die wedstryd vind plaas.
Ander rugbynuus: Harlequins het die Stormers se onoorwonne Kampioenebeker-rekord beëindig toe hulle nege drieë gedruk het in ‘n oorwinning van 61-10 op Twickenham Stoop in Londen. Nick David het ‘n driekuns behaal en Harlequins gehelp na ‘n plek in die laaste 16. Hulle sal ‘n tuisuitklopwedstryd verseker indien hulle Sondag ‘n bonuspunt-oorwinning oor La Rochelle behaal. Die Stormers, wie se twee drieë deur Imad Khan en Dylan Maart gedruk is, hoop dat ‘n oorwinning tuis teen Leicester Tigers Saterdag genoeg sal wees vir ‘n tuiswedstryd in die laaste 16.
# Krieket: Durban Super Giants is weer op die wenpad na ʼn naelskraapse oorwinning met twee paaltjies oor Sunrisers Eastern Cape in hul SA20-kragmeting in Gqeberha. Kaptein Tristan Stubbs het ʼn onoorwonne 47 behaal en Sunrisers tot ‘n middelmatige 158 vir vyf gelei. Marques Ackerman het daarna 45 gemoker en Super Giants het die teiken gehaal met drie balle oor. Die Durbanse span is nou vyfde op die punteleer en het steeds ʼn kans om die uitspeelrondes te haal.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Meesters- en Legendes-vereniging oorweeg om die voormalige Bafana Bafana-kaptein, Lucas Radebe, te benoem as sy kandidaat as president van SAFA. Danny Jordaan het nog nie bevestig of hy hom vir ‘n vierde termyn beskikbaar gaan stel nie. Radebe het nie in 2018 en 2022 die benoemingslys gehaal nie, want SAFA se grondwet vereis dat kandidate lede van die vereniging se strukture moet wees met tien jaar se streekvlak-ondervinding. Die vereniging sê daar is ‘n groot vraag na voormalige spelers soos Radebe om SAFA te red.
# En laastens, tennis: Pole het Switserland in Sydney 2-1 verslaan en spog die eerste keer ooit met die United Cup-titel. Iga Swiatek het in die aanvangswedstryd teen Belinda Bencic verloor. Hubert Hurkacz, wat ná ʼn knie-operasie aan sy eerste toernooi in sewe maande deelgeneem het, het sake gelykop gemaak met ʼn sege oor Stan Wawrinka. In die bepalende gemengde dubbelspel-kragmeting het Katarzyna Kawa en Jan Zielinski van Pole hul onoorwonne rekord in die toernooi behou en met Bencic en Jakub Paul afgereken om die titel te beklink.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….