Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met motorsport: Henk Lategan van Suid-Afrika het die vierde skof van die Dakar-tydren gewen en is nou die algehele voorloper. Lategan, wat verlede jaar algeheel tweede was, het die vyfde skof van sy loopbaan in sy Toyota Hilux gewen. Die vyfmalige kampioen, Nasser Al-Attiyah van Katar, was tweede vinnigste en Marek Goczał van Pole derde. Lategan sê hy het net instinktief gery nadat hy Dinsdag nege pap wiele gekry het:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, erken dat hy teleurgesteld is na die span se uitskakeling in die ronde van 16 op die Afrikabekertoernooi in Marokko. Broos het met die span se aankoms op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng gesê daar was hoë verwagtinge van die voormalige bronsmedaljewenner, maar die kompetisie was straf. Hy sê die fokus verskuif nou na vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Kanada, Mexiko en Amerika:
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Ruan Venter gaan die Leeus se volgende vier wedstryde misloop. Hy is geskors na sy rooikaart teen die Haaie in verlede naweek se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd in Durban. Venter is met ‘n geelkaart afgestuur na kontak met die Haaie se Bok-agterspeler, Aphelele Fassi, se kop en dis opgradeer na ‘n 20-minute-rooikaart. Sy skorsing van ses weke is na vier verlaag danksy berou en sy puik gedrag tydens die tugproses. Venter kan eers weer in Februarie speel.
# Krieket: Die voormalige Protea-snelbouler Dale Steyn glo Suid-Afrika se groep vir volgende maand se T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka is onervare op sleutelgebiede. Hy bevraagteken sekere besluite, veral die uitlating van Tristan Stubbs en Ryan Rickelton, en die insluiting van onervare spelers soos Jason Smith en Kwena Mapheka. Steyn sê ondervinding van groot toernooie is ononderhandelbaar in die Wêreldbeker. Die Proteas speel hulle groepswedstryde teen Nieu-Seeland, Afganistan, Kanada en die Verenigde Arabiese Emirate. Die toernooi begin op 7 Februarie.
En laastens, Australië het Engeland met vyf paaltjies verslaan in die vyfde en laaste toets om die As in Sydney om die reeks 4-1 te beklink. Die besoekers se tweede beurt het op 342 geëindig na Jacob Bethell se 154. Australië het die teiken van 160 in hulle 32ste boulbeurt bereik. Die speler van die reeks, Mitchell Starc, wat 31 paaltjies platgetrek het, sê dit was ‘n uitputtende kompetisie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….