Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Jacob Bethell het Engeland hoop gegee in die vyfde en laaste toets om die As teen Australië toe hy sy eerste toetshonderdtal aangeteken het op die vierde dag in Sydney. Die 22-jarige was onoorwonne op 142 toe die besoekers tot 302 vir agt gevorder het – ‘n voorsprong van 119. Die gashere is vroeër 567 uitgeboul, ‘n eerstebeurt-voorsprong van 183, en Bethell het gehelp om die agterstand uit te wis. Hy het vennootskappe van 81 en 102 met Ben Duckett en Harry Brook gedeel.
Travis Head glo intussen hy sal aanbly as Australië se aanvangskolwer na sy skittervertoning in die reeks. Hy het gister in Sydney sy derde honderdtal van die reeks aangeteken nadat hy die rol in die eerste toets in Perth oorgeneem het toe Usman Khawaja beseer is en sedertdien uitgetree het. Head het daardie wedstryd help wen met 123 in die tweede beurt, en dit opgevolg met 170 in Adelaide voor sy 163 op die SCG vir sy 12de toetshonderdtal.
# Sokker: Die deelnemers aan die Afrikabekertoernooi se kwarteindronde is bepaal. Die verdedigende kampioen, Ivoorkus, kom Saterdag teen die sewemalige kampioen, Egipte, te staan in wat beloof om ‘n opwindende wedstryd te wees. Die gasheer, Marokko, pak Vrydag met sy tuisskare se ondersteuning die vyfmalige wenner, Kameroen, terwyl Senegal en Mali sake sal uitspook in ʼn Wes-Afrika-derbie. Die vasteland se twee swaargewigte, Nigerië en Algerië, se kragmeting vind Saterdag plaas.
# Tennis: Die prysgeld van die Australiese Ope word vanjaar met 16-persent verhoog. Die enkelspelkampioene sal elk 46,5-miljoen-rand ontvang as deel van die algehele prysgeld van 1,227-miljard-rand. Die verhoging sluit ook die kwalifiserende rondes in. Die uitvoerende hoof van Tennis Australië, Craig Tiley, sê dit dui op die organisasie se toewyding om die spel op alle vlakke te ondersteun. Die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar begin die 18de in Melbourne. Die Italianer Jannik Sinner en die Amerikaner Madison Keys is die verdedigende enkelspel-kampioene.
# En laastens, Olimpiese spele: Die Milaan Cortina-Winterspele in Italië is weer op koers na vroeëre kommer oor die hoeveelheid sneeu. Dit volg na kouer weer in die noordooste. Die president van die Internasionale Federasie vir Ski- en Sneeuplankry, Johan Eliasch, sê dit het vroeëre kommer oor sneeuplase en kunsmatige sneeu op sleutel-plekke uit die weg geruim. Hy glo ook dat toekomstige Winterspeles aangebied moet word op hoërliggende plekke waar sneeu nie ‘n probleem is nie. Die Spele vind van die sesde tot die 22ste van volgende maand plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….