Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Australiërs Travis Head en Steve Smith het met die kolf geskitter toe die gasheer 518 vir sewe bereik het na die derde dag van die vyfde toets om die As in Sydney – ‘n voorsprong van 134 lopies oor Engeland. Head het 163 lopies aangeteken en Smith ‘n onoorwonne 129 – die tweede meeste lopies ooit in die reeks na die Engelse kolwer Jack Hobbs. Engeland is vroeër uitgeboul vir 384 na Joe Root se 160. Australië is nou op koers om die reeks 4-1 te wen.
# Rugby: Die beleërde Bulle hoop om hulle seisoen reg te ruk in hulle volgende twee Kampioenebeker-wedstryde. Die Pretoriase span verkeer onder groot druk na ses nederlae in ‘n ry, insluitend een van 13-8 Saterdag teen die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap. Hoofafrigter Johan Ackermann dink hulle verdediging was heelwat beter en daar was baie positiewe aspekte. Hulle speel komende naweek op Loftus teen Bristol Bears, en ‘n week later in Frankryk teen Pau.
# Sokker: Die sewemalige kampioen, Egipte, het deurgedring na die kwarteindronde van die Afrikabekertoernooi toe hy Benin in bykomende tyd 3-1 geklop het. Die telling was 1-elk na 90-minute. Egipte se ster-speler, Mohamed Salah, het een van hulle twee doele in bykomende tyd aangeteken. Die Farao’s speel volgende teen die wenner van vandag se kragmeting tussen die Ivoorkus en Burkina Faso. Nigerië het Mosambiek 4-0 oorrompel om na die kwarteindronde deur te dring en speel volgende teen Algerië of die Demokratiese Republiek die Kongo.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Novak Djokovic, het aan volgende week se Adelaide-internasionaal onttrek en sê hy is fisies nog nie gereed om deel te neem nie. Die 38-jarige Serwiër wou die geleentheid gebruik as voorbereiding vir die Australiese Ope op Melbourne Park. Djokovic, wat sy speeltye die afgelope jare aangepas het om fiks te wees vir die Grand Slam-toernooie, sê hy fokus nou op voorbereiding vir die Australiese Ope waar hy al ‘n rekord tien keer met die trofee weggestap het.
# En ten slotte, motorsport: Die Formule Een-nuweling, Cadillac, het Zhou Guanyu aangestel as hierdie seisoen se reserwe-renjaer. Die Chinees het verlede jaar dieselfde rol by Ferrari vervul nadat hy einde 2024 sy plek by Sauber verloor het. Guanyu sal rugsteun bied vir Valtteri Bottas en Sergio Perez, terwyl die gewese IndyCar-renjaer, Colton Herta, as toetsbestuurder sal optree. Zhou het al aan 68 Grand Prix-wedrenne deelgeneem en op sewe geleenthede punte aangeteken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….