Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging gaan ‘n groot finansiële hupstoot kry nadat Bafana Bafana vir die volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Mexiko en Kanada gekwalifiseer het. Onder FIFA se uitgebreide prysstruktuur sal elke kwalifiserende land minstens nege-miljoen-rand ontvang, plus voorbereidingsbefondsing, wat altesaam sowat 175-miljoen-rand beloop. Dit is Suid-Afrika se eerste deelname aan die toernooi sedert 2010, en verlig SAFA se finansiële druk, terwyl spelers ook regeringsbonusse sal ontvang.
# Krieket: Vandag se derde en laaste eendagwedstryd tussen die Protea-vroue en Ierland in Johannesburg gaan geen uitwerking hê op die reeks nie. Suid-Afrika het dit reeds beklink deur die eerste twee kragmetings te wen. Die gasvrou het die besoekers eers in Oos-Londen met sewe paaltjies verslaan, en toe in Gqeberha met 74 lopies. Dit het gevolg op hulle oorwinning van 2-0 in die T20-reeks nadat die laaste wedstryd in Benoni uitgereën het. Vanmiddag se aksie op die Wanderers begin een-uur.
Nog krieketnuus: Australië het ‘n voorsprong van 356 lopies na die derde dag van die derde toets om die As teen Engeland in Adelaide. Die gasheer het vanoggend die besoekers se laaste twee eerstebeurt-paaltjies geneem – kaptein Ben Stokes vir 83 en Jofra Archer vir 51 – na ‘n vennootskap van 106 om die negende paaltjie. Engeland het op 286 geëindig na Australië se 371. Die Aussies was met uitskeityd op 271 vir vier. Die situasie is netelig vir Engeland, wat reeds die eerste twee toetse verloor het.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap hervat die naweek na drie weke, met verskeie plaaslike derbies wat plaasvind. Die Stormers, wat tans bo-aan die punteleer is, speel môremiddag 3.30 in Kaapstad teen die sewende- geplaasde Leeus, en sesuur ontmoet die 14de-geplaasde Haaie die agtste-geplaasde Bulle in Durban. Die Walliese spanne Cardiff en Scarlets skop die aksie vanaand in die Walliese hoofstad af, terwyl die Ierse spanne Leinster en Ulster mekaar die stryd aansê op die Aviva-stadion in Dublin. Vier ander wedstryde vind ook môre plaas.
# En laastens, motorsport: Die viermalige Formule Een-wêreldkampioen, Max Verstappen, sal volgende seisoen met die nommer drie op sy Red Bull-motor jaag. Die Nederlander het die gesogte nommer een aan Lando Norris van McLaren afgestaan nadat die Brit onlangs sy eerste titel verower het. Verstappen sê behalwe vir nommer een, was drie nog altyd sy gunstelingnommer en hy het besluit om nie terug te keer na die 33 wat hy voorheen gebruik het nie. Die nuwe seisoen begin die eerste naweek in Maart in Melbourne, Australië.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….