Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Kaptein Laura Wolvaardt en Suné Luus het geskitter vir die Proteas in die tweede eendagwedstryd teen Ierland in Gqeberha. Suid-Afrika het met 74 lopies gewen en loop 2-0 voor in die reeks van drie wedstryde. Wolvaardt het 124 lopies bygedra en Luus 114 toe die gasvroue hul hoogste eendag-totaal ooit aangeteken het van 375 vir ses. Orla Prendergast het haar bes gedoen met 97, maar Leah Jones het drie paaltjies platgetrek en Ierland is in hulle 48ste boulbeurt uitgeboul vir 301. Die laaste kragmeting vind Vrydag in Johannesburg plaas.
Intussen is die Protea-mansspan onder druk in vandag se vierde T20 teen Indië in Lucknow. Hulle is 2-1 agter in die reeks van vyf wedstryde en moet wen om ‘n reeksnederlaag te vermy. Die gashere het die eerste en die derde wedstryd in onderskeidelik Cuttack en Dharamsala gewen, terwyl die Proteas in die tweede een in Nieu-Chandigarh geseëvier het. Indië het die eendagreeks 2-1 beklink het. Die laaste T20 word Vrydag in Ahmedabad gespeel.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Aldrich Potgieter het die derde Suid-Afrikaner geword wat die PGA-toernooi se Nuweling van die Jaar is. Die ander is Ernie Els en Trevor Immelman. Die 21-jarige Mosselbaaise gholfspeler het die Arnold Palmer-toekenning opgeraap nadat hy die Rocket Mortgage Classic gewen en die jongste Suid-Afrikaner geword het wat ‘n PGA-toertitel opraap. Potgieter was die enigste nuweling wat hierdie seisoen se FedEx-beker-uitspeelrondes gehaal het en sy dryfhoue was gemiddeld 297 meter. Hy moes aan minstens 15 amptelike FedEx-toernooie deelgeneem het om die prys te kry.
# Sokker: Bafana Bafana het Ghana 1-0 geklop in ʼn vriendskaplike wedstryd op die Dobsonville-stadion in Soweto. Dit was die Suid-Afrikaners se laaste kragmeting voor die span vandag na Marokko vertrek vir die Afrikabekertoernooi. Sipho Mbule het die enigste doel in die 57ste minuut behaal. Afrigter Hugo Broos was nie beïndruk met sy span se vertoning nie:
En ander sokkernuus: FIFA het ‘n nuwe afslag-kaartjiekategorie aangekondig vir 2026 se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Dit volg op teenkanting van ondersteunersgroepe wat FIFA daarvan beskuldig dat hy ondersteuners verraai vir wat hulle beskryf as astronomiese kaartjiepryse. Die wêreldbeheerliggaam het afgewyk van sy aanvanklike prysstruktuur, wat ‘n toename van byna 500-persent verteenwoordig vergeleke met 2022 se toernooi in Katar. FIFA het nou ‘n aantal vaste toegangskaartjies teen ongeveer een-duisend rand beskikbaar gestel vir al 104 wedstryde, insluitend die eindstryd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….