Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Suid-Afrika het Indië met 51 lopies verslaan in die tweede T20 in Nieu-Chandigarh om die reeks van vyf wedstryde gelykop te maak. Quinton de Kock het 90 van 46 balle behaal om die Proteas tot ‘n indrukwekkende 213 vir vier te lei. Ottneil Baartman het daarna vier paaltjies platgetrek tydens ʼn gedissiplineerde boulaanval en Indië is uitgeboul vir 162 met vyf balle oor. Indië het die eerste wedstryd met 101 lopies beklink. Die derde T20 vind Sondag in Dharamsala plaas.
Intussen sê die Protea-vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, hulle hoop om voort te bou op die T20-reeksoorwinning oor Ierland wanneer hulle môre die eerste van drie eendagwedstryde speel. Suid-Afrika het oortuigende oorwinnings in die eerste twee T20s behaal voor die laaste een uitgereën het. Môre se kragmeting in Oos-Londen sal die Proteas se eerste in die formaat wees sedert hulle nederlaag teen Indië in verlede maand se Wêreldbeker-eindstryd. Wolvaardt verwag Ierland sal sterk terugveg en besef hulle sal hul beste moet gee.
# Motorsport: Die McLaren-renjaer Oscar Piastri verwag gelyke behandeling volgende jaar al is sy Britse spanmaat, Lando Norris, vanjaar se Formule Een-kampioen. Die Australiër het derde gekom in die bestuurderskampioenskap na Red Bull se viermalige kampioen, die Nederlander Max Verstappen. Piastri het McLaren ook gehelp om die vervaardigers-kampioenskap in te palm. Piastri het reageer op sommige kommentators wat bespiegel Norris gaan in 2026 voorkeur-behandeling kry, en sê albei het beter geword omdat hulle mekaar aangevuur het.
# Olimpiese Spele: Die uitvoerende raad van die Internasionale Olimpiese Komitee het aanbeveel dat jeugatlete van Rusland en Belarus nie meer verbied moet word om aan internasionale jeugkompetisies deel te neem nie. Dit geld vir individuele en spansporte. Die IOK het die lande verban na Rusland se inval in Oekraïne in Februarie 2022. Die IOK sê atlete, en in die besonder jeugatlete, moet nie aanspreeklik gehou word vir hul regerings se optrede nie. Die aanbeveling kan waarskynlik ingestel word voor volgende jaar se Jeug-Olimpiese Spele in Dakar.
Australië het intussen ‘n fonds van 564-miljoen-rand bekendgestel vir atlete voor 2032 se Spele in Brisbane. Dit sal uittree-toelaes vir Olimpiese deelnemers insluit, en kontant-toekennings om vroulike atlete te help om na elite-deelname terug te keer na hulle geboorte gegee het. Die president van die land se Olimpiese Komitee, Ian Chesterman, sê baie atlete het min finansiële steun aan die einde van hulle loopbane en hierdie bydrae sal ‘n verskil maak. Hy sê hoewel Olimpiese atlete dit nie vir geld doen nie, word finansiële opofferings gemaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….