Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth het op sosialemedia kommentaar gelewer oor sy skorsing van 12 weke. ‘n Onafhanklike tugpaneel het hom verlede week skuldig bevind nadat hy verlede maand in Cardiff sy vinger in die Walliese flank, Alex Mann, se oog gedruk het. Etzebeth gebruik drie videogrepe om te bewys die optrede was per ongeluk, maar aanvaar skuld. Hy wil nie hê jong kinders wat na die Bokke opsien, moet dink dis reg om jou vinger in iemand se oog te druk nie, maar sê ongelukke gebeur.
Die Stormers se hoofafrigter, John Dobson, het intussen nege Springbokke in sy beginspan ingesluit vir Saterdag se Kampioenebeker-ontmoeting met La Rochelle in Gqeberha. Warrick Gelant, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Cobus Reinach, Evan Roos en André-Hugo Venter is almal in die span. Die plaasvervangers sluit in die haker JJ Kotzé, die slot Connor Evans, die losvoorspeler Ruan Ackermann, die skrumskakel Imad Khan en die veelsydige agterspeler Wandisile Simelane. Dobson sê sy span wil voortbou op hul bemoedigende vertoning in Frankryk verlede week toe hulle Bayonne 26-17 geklop het.
# Krieket: Die derde en laaste T20-wedstryd tussen Suid-Afrika en Ierland se vrouespanne in Benoni is weens swaar reën afgestel sonder dat ‘n enkele bal geboul is. Die Protea-vroue het die reeks van drie wedstryde gemaklik 2-0 gewen ná oorwinnings van 105 lopies in die eerste wedstryd in Kaapstad en 65 in die tweede wedstryd in die Paarl. Die spanne konsentreer nou op die eendagreeks van drie wedstryde wat Saterdag op Buffalopark in Oos-Londen begin.
Intussen pak Suid-Afrika se mans en Indië mekaar vandag in die tweede T20 in New Chandigarh. Die gasheer het Dinsdag se eerste kragmeting in Cuttack met 101 lopies gewen toe hulle die Proteas vir 74 uitgeboul het – hulle heel laagste T20-telling. Dit het gevolg nadat Suid-Afrika die toetsreeks 2-0 gewen en Indië die eendagreeks 2-1 beklink het. Die derde T20 word Sondag in Dharamsala gespeel, die vierde Woensdag in Lucknow en die toer sluit volgende Vrydag in Ahmedabad af met die vyfde wedstryd.
# En sokker: Mohamed Salah se Egiptiese spanmaats staan by hom na sy uitval met sy afrigter by Liverpool, Arne Slot. Die Nederlander het Salah uit die span gelaat vir Dinsdag se UEFA Kampioeneliga-wedstryd teen Inter Milan nadat hy Slot in die openbaar gekritiseer het toe hy drie wedstryde op die bank begin het. Die Egiptiese doelskieter Kouka Hassan beskryf Salah as ‘n legende vir die klub en die land. Salah sluit by sy nasionale spanmaats aan vir die Afrikabekertoernooi wat die 21ste in Marokko begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….