Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met die SA Sporttoekennings: Die naelloper en Olimpiese silwermedaljewenner, Akani Simbine, is aangewys as Sportster van die jaar op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings in Noordwes. Die swemmer Pieter Coetze en die middelafstand-atleet Prudence Sekgodiso het onderskeidelik Sportman en Sportvrou van die Jaar gewen. Puseletso Mabote is aangewys as Gestremde Sportman van die Jaar met Simoné Kruger die wenner in die vroue-afdeling. Die Olimpiese silwermedaljewenner, Bayanda Walaza, het die toekenning as Sportster van die Jaar ingepalm. Die Proteas se manstoetskrieketspan is bekroon as Span van die Jaar.
# Rugby: Richie Mo’unga maak môreaand sy langverwagte terugkeer na die All Black-span wanneer die besoekers en die Leeus op Ellispark kragte meet. Die 32-jarige losskakel het in die eindstryd van 2023 se Wêreldbekertoernooi teen die Springbokke laas vir Nieu-Seeland uitgedraf. Patrick Tuipulotu sal die span aanvoer. Die stut Saula Ma’u maak sy All Black-buiging van die bank af. Afrigter Dave Rennie sê Mo’unga het sy plek verdien:
Nog rugbynuus: Die Cheetahs het net soos Griekwas ‘n Curriebeker-tuishalfeindstryd verseker danksy ‘n moeilike oorwinning van 33-24 oor ‘n swak-gedissiplineerde Boland Kavaliers in Bloemfontein. Die besoekers was rustyd 10-7 voor, maar het binne tien minute vier geelkaarte ontvang. Michael Annie het twee van die Cheetahs se vyf drieë gedruk om die oorwinning te verseker. Die Griekwas is bo-aan die punteleer met 26 punte, gelyk met die Cheetahs, maar voor op punteverskil. Volgende naweek se laaste groepsronde sal bepaal wie bo-aan eindig.
# Motorsport: McLaren se renjaer, Lando Norris het die Nederlandse Grand Prix gewen vir sy tweede agtereenvolgende oorwinning. Die Brit het voor die Mercedes-paar, Kimi Antonelli en George Russell, oor die wenstreep gejaag. Lewis Hamilton en Charles Leclerc van Ferrari is onderskeidelik vierde en vyfde. Die tuisskare se gunsteling, Max Verstappen van Red Bull, is uit na slegs een ronde. Die uitslag laat Antonelli met ‘n kampioenskapsvoorsprong van 59 punte voor Russell. Norris sê sy motor moet nog baie verbeter:
# En tennis: Arthur Fils van Frankryk het die grootste titel van sy loopbaan in die Cincinnati-ope opgeraap. Die 21ste-gekeurde het die Amerikaner Frances Tiafoe verslaan vir sy eerste ATP Meesters-een-duisend-kroon en daarmee tien plekke opgeskuif tot elfde op die wêreldranglys – die beste van sy loopbaan. In die vroueafdeling het die Amerikaner Coco Gauff met haar landgenoot, Jessica Pegula, afgereken vir haar tweede titel in Cincinnati. Fils sê sy harde werk is beloon:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….