Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met Krieket: Saterdag se laaste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Indië in Visakhapatnam sal die wenner bepaal nadat die Proteas die gasheer met vier paaltjies verslaan het in die tweede kragmeting in Raipur om die reeks gelykop te maak. Virat Kohli het 102 lopies aangeteken, sy 53ste eendag-honderdtal, terwyl Ruturaj Gaikwad 105 aangeteken het vir sy eerste honderdtal in die formaat. Indië het ‘n reusetotaal van 358 vir vyf lopies aangeteken. Aiden Markram het daarna 110 lopies bygedra vir sy eerste eendag-honderdtal en die Proteas het die wenteiken bereik met vier balle oor.
# Rugby: Die legendariese All Black-losskakel Dan Carter is opgewonde oor die moontlikheid dat Nieu-Seeland en Suid-Afrika mekaar kan raakloop in die kwarteindronde van 2027 se Wêreldbekertoernooi. Die Springbokke, die tweemalige verdedigende kampioen, speel in Groep B teen Italië, Georgië en Roemenië. Die All Blacks is in Groep A saam met die gasheerspan, Australië, Chili en Hongkong China. Carter, ‘n dubbele Wêreldbeker-wenner, sê dit maak nie saak teen wie jy speel wanneer jy die uitklopfase bereik nie:
Daar is intussen steeds kaartjies beskikbaar vir hierdie naweek se wêreld-sewesreekstoernooi in Kaapstad. Kaartjies word verkoop teen 250-rand per persoon vir die dag se wedstryde. Die Blitsbokke, die verdedigende kampioen, is in ‘n moeilike groep saam met Fidji, Brittanje en Nieu-Seeland, wat verlede naweek die eerste toernooi in Dubai gewen het. Die Blitsbokke is steeds bekommerd oor die fiksheid van die sleutel-spelskepper Selvyn Davids en die sterk voorspeler Ryan Oosthuizen, wat albei in Dubai beseer is. Die wedstryde begin Saterdagoggend 10-uur op die Kaapstad-stadion.
# Gholf: Die Gary Player-buiteklub by Sun City in Noordwes sal verskeie uitdagings bied in die jaarlikse Nedbank-Gholfuitdaagtoernooi wat vanoggend begin het. Dit volg na ‘n aantal veranderinge wat waarskynlik die uitslag kan raak. Toernooidirekteur Ken Payet sê die 90-jarige Player was regstreeks betrokke by die veranderinge. Hy sê hulle wil ‘n wonderlike skouspel sowel as ‘n uitdaging vir die deelnemers bied. Vanjaar se prysgeld is ‘n yslike 102-miljoen rand, waarvan die wenner 17,5-miljoen in sy sak sal steek.
# En motorsport: Die FIA se presidentsverkiesing gaan volgende week in Oezbekistan voort, al bestaan die moontlikheid dat ʼn regsgeding die uitslag kan omkeer. Die Switserse renjaer, Laura Villars, het ʼn noodbeslissing versoek om die verkiesing uit te stel. Villars en twee ander voormalige FIA-presidentskandidate moes onttrek nadat hulle nie teen die sperdatum van 24 Oktober die vereiste lys moontlike visepresidente uit die amptelike lys van 29 kon bekom nie. Villars se aansoek teen die FIA se verkiesingsproses word op 16 Februarie aangehoor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….