Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth kan ‘n lang skorsing verwag nadat hy ‘n rooikaart gekry het in Saterdag se oorwinning van 73-0 oor Wallis in Cardiff. Hy is van die veld gestuur nadat hy tydens ʼn onderonsie sy duim in die Walliese flank, Alex Mann, se oog gesteek het. Wêreldrugby se regulasies bepaal die minimum-straf vir oogkontak is ʼn skorsing van 12 weke, en die maksimum meer as 24 weke. In uiterste gevalle kan dit tot vier jaar duur, maar dis hoogs onwaarskynlik in Etzebeth se geval.
Die gasheer in die naweek se sewestoernooi in Kaapstad, Suid-Afrika, is intussen saam met Nieu-Seeland, Fidji en Engeland in Groep A geloot. Die Blitsbokke het gister vyfde geëindig in Dubai, wat deur Nieu-Seeland gewen is. Groep B bestaan uit Argentinië, Australië, Frankryk en Spanje. Suid-Afrika is die verdedigende kampioen nadat hulle Frankryk in verlede jaar se eindstryd geklop het. In die vroueloting sal Nieu-Seeland se Black Ferns in Groep A teen Fidji, Amerika en Groot-Brittanje speel, terwyl Groep B bestaan uit Australië, Japan, Kanada en Frankryk.
# Krieket: Die 37-jarige Virat Kohli het geskitter tydens Indië se oorwinning van 17 lopies oor Suid-Afrika in die eerste van drie eendagwedstryde in Ranchi. Kohli het 135 lopies van 120 balle aangeteken, sy 52ste honderdtal in die formaat, terwyl die gashere ‘n uitdagende totaal van 349 vir agt in hul 50 boulbeurte bereik het. Matthew Breetzke het daarna 72 aangeteken terwyl Kuldeep Yadav vier paaltjies geneem het, en die Proteas is vir 332 uitgeboul. Die tweede eendagwedstryd word Woensdag in Raipur gespeel.
# Motorsport: Max Verstappen van Red Bull het die Katarse Grand Prix gewen en seker gemaak die bestuurderskampioenskap word komende naweek in die seisoen se laaste wedren in Abu Dhabi bepaal. McLaren se alternatiewe strategie het hom duur gekos toe Oscar Piastri tweede was en die kampioenskaps-voorloper, Lando Norris, vierde. Carlos Sainz van Williams was derde. Verstappen, wat sy vyfde agtereenvolgende titel nastreef, is nou 12 punte agter Norris, met Piastri nog vier punte terug. Verstappen sê hulle strategie was perfek:
# En atletiek: Mondo Duplantis is die derde keer as Mans-wêreldatleet van die Jaar gekroon op Wêreldatletiek se toekenningsgeleentheid in Monaco. Die Sweedse paalspringer het vanjaar vier wêreldrekords opgestel en was onoorwonne in 16 kompetisies. Hy het ook die mans-veldtoekenning gewen. Die Amerikaanse naelloopsensasie Sydney McLaughlin-Levrone het die Vroue-wêreldatleet van die Jaar-toekenning gewen. Sy was vanjaar in Tokio die eerste vrou sedert 1985 wat die 400-meter onder 48-sekondes kon aflê. Emmanuel Wanyonyi van Kenia het die mans-baantoekenning gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….