Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Suid-Afrika en Wallis sal albei Saterdag se toets in Cardiff met verswakte spanne aanpak. Die kragmeting val buite die internasionale venster en baie spelers is toegelaat om na hul klubs terug te keer. Springbok-afrigter Rassie Erasmus sal slegs sowat 24 spelers hê om van te kies en die Walliese afrigter Steve Tandy is 13 spelers kwyt. Wallis het teen Japan gewen, maar hoop nou om te herstel van hulle nederlaag teen die All Blacks -hulle eerste tuiswedstryd in langer as twee jaar – en die Bokke hoop op nog ‘n onoorwonne toer.
Intussen sê die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, die afwesigheid van die eerstekeuse-spelers gee jonger spelers die geleentheid om indruk te maak. Die Bokke het sover die seisoen 11 van hul 13 toetse gewen, terwyl Wallis slegs twee van hul tien wedstryde kon wen. Human sê die afwesigheid van sekere spelers sal nie die span ontwrig nie omdat hulle gereeld wedstrydgroepe roteer:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het ‘n voorlopige groep van 54 aangekondig vir volgende maand se Afrikabekertoernooi in Marokko. Sy aanvanklike groep is ʼn mengsel van ervare en opkomende spelers. Dit sluit spelers in soos Themba Zwane, die Onder-20 Afcon-wenner Tylon Smith, en Shandré Campbell. Fawaaz Basadien is ook weer terug. Die groep sal volgende maand tot 23 spelers verminder word. Suid-Afrika is in Groep B saam met Angola, Egipte en Zimbabwe.
# Gholf: Die Sonskyntoer vir Vroue het ʼn versterkte 2026-program en spog met tien toernooie. Die skedule sluit in die Europese Damestoernooi, die Johannesburgse Vroue-Ope, en die Suid-Afrikaanse Vroue-Ope. Die Ladies Classic wat in Mauritius plaasvind, is ʼn nuwe toevoeging vir volgende jaar. Die Sonskyntoer se kommissaris, Thomas Abt, sê dis baie belangrik om die spelers se moontlikhede uit te brei en die program verskaf selfs beter geleenthede om hul loopbane op ʼn internasionale vlak te ontwikkel.
# En krieket: Daar is steeds onsekerheid oor die fiksheid van Australië se kaptein, Pat Cummins, vir die tweede toets om die As teen Engeland wat volgende Donderdag in Brisbane begin. Cummins het vroeër gesê daar is slegs ‘n geringe kans dat hy betyds sal herstel van ‘n rugprobleem. Die voormalige kaptein, Steve Smith, het Australië aangevoer toe hulle Engeland binne twee dae geklop het in die eerste toets in Perth. Nog ‘n snelbouler, Josh Hazlewood, is voor die eerste toets beseer, maar behoort later in die reeks beskikbaar te wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….