Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx sê sy aanwysing as Wêreldrugby se Speler van die Jaar laat hom nederig voel. Die 31-jarige het sy landgenote Pieter-Steph du Toit en Oche Nché om die toekenning uitgestof, asook Louis Bielle Biarrey van Frankryk. Die dubbele Wêreldbekerwenner is ook die eerste haker wat die toekenning verower sedert Keith Wood die eerste een in 2001 ingepalm het. Marx sê die toekenning behoort ook aan die hele span:
Intussen sal die Springbokke se hoofafrigter, Rassie Erasmus, nie ‘n groot groep spelers hê om uit te kies vir Saterdag se laaste toerwedstryd teen Wallis in Cardiff nie. Die toets val buite die internasionale gleuf en baie van die spelers keer terug na hul klubs. Erasmus het bevestig dat slegs 24 tot 25 spelers beskikbaar sal wees vir die ontmoeting op die Principality-stadion, waar Suid-Afrika sal probeer om die toer onoorwonne af te sluit na oorwinnings oor Japan, Frankryk, Italië en Ierland. Hy kondig sy span Donderdag aan.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê sy wil volgende Dinsdag se internasionale vriendskaplike wedstryd teen Marokko gebruik om individuele prestasie te meet. Dit is ter voorbereiding van 2026 se Afrikabeker-toernooi vir vroue. Suid-Afrika het verlede maand amptelik vir die toernooi gekwalifiseer met ‘n oorwinning van 1-0 oor die Demokratiese Republiek die Kongo. Ellis het ʼn groep van 26 gekies wat Vrydag na Marokko reis. Sy sê die vriendskaplike wedstryd sal spelers waardevolle blootstelling gee aan verskillende taktiese opstellings en mededingende wedstryd-intensiteit voor die WAFCON.
# Tennis: Italië het sy geskiedkundige derde agtereenvolgende Davisbeker-titel opgeraap toe hy Spanje voor hul tuisskare in Bologna verslaan het. 2021 se naaswenner op Wimbledon, Matteo Berrettini, het 13 kishoue gemoker om Pablo Carreno Busta in die openingswedstryd 6-3, 6-4 te klop. Flavio Cobolli moes alles uithaal om Jaume Munar in drie stelle te verslaan en Italië se sukses te verseker. Cobolli sê dis ʼn spesiale oomblik in sy loopbaan:
# En motorsport: Die kampioenskapsleier Lando Norris en sy McLaren-spanmaat Oscar Piastri is albei gediskwalifiseer van die Las Vegas Grand Prix, nadat hul motors na die wedren tegniese toetse gedruip het. Daar is bevind die glyblokke op albei motors is minder as die minimum diepte. Norris was tweede en Piastri vierde. Max Verstappen van Red Bull het die wedren gewen en George Russell van Merces is na tweede opgeskuif met sy spanmaat, Kimi Antonelli, in die derde plek. Norris lei nou die kampioenskap met 24 punte voor Piastri en Verstappen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….