Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het Suid-Afrika se ondersteuners gevra om die All Blacks se haka te respekteer in môre se toets in Johannesburg. Hy wil hê die verwagte partydige skare moet stilbly terwyl die teenstanders hul tradisionele voorwedstrydritueel op Ellispark uitvoer. Dit volg nadat die dreunsang “olé, olé” die Nieu-Seelandse uitdaging oordonder het tydens onlangse toetse in Suid-Afrika. Erasmus sê groot respek is getoon voor die All Blacks se toerwedstryde teen die Stormers in Kaapstad, die Haaie in Durban en die Bulls op Loftus.
Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, sê intussen hulle maak gereed vir ‘n fisieke armdruk-stryd eerder as oop, hardlooprugby môre. Hy het ʼn sterk span aangewys, met Ardie Savea as kaptein en die skrumskakel Cam Roigard en die vleuel Will Jordan wat die eerste keer op die toer speel. Rennie sê lugskoppe gaan van vroeg in die wedstryd ‘n sleutelrol speel:
# Sokker: Banyana Banyana sal teen Taiwan, Ecuador en Oesbekistan te staan kom in die voorlopige fase van die tussenkontinentale uitspeelwedstryde vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi vir vroue in Brasilië. Suid-Afrika het hul plek in die uitspeelwedstryde verower na hul veldtog in die Afrikabekertoernooi, waar hulle Nigerië geklop het om hul Wêreldbekerdroom lewend te hou. Die uitspeelwedstryde sal in November en Desember gespeel word. Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê dis nie ‘n maklike loting nie, maar hulle kan slaag as hulle goed begin.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, keer na vier maande op die kantlyn terug in die Amerikaanse Ope. Die 23-jarige Spanjaard het in April sy regter-pols beseer tydens die Barcelona-ope. Hy kon nie sy titel op die Franse Ope verdedig nie en het ook Wimbledon misgeloop. Alcaraz sou hierdie maand in die Cincinnati-ope terugkeer, maar het onttrek. Die sewemalige Grand Slam-kampioen gaan probeer om sy derde Amerikaanse Ope-titel te wen. Die toernooi begin op 30 Augustus in New York.
Die algehele prysgeld vir die toernooi beloop 1,74-miljard-rand, wat die grootste vergoedingspakket in die sport se geskiedenis is. Dis 20-persent meer as verlede jaar. Die twee enkelspelkampioene ontvang elk 88,4-miljoen-rand, en eersteronde-verloorders 2,25-miljoen-rand – die grootste bedrag in die geskiedenis vir spelers wat bloot die hooftrekking gehaal het. Die pakket sluit ook ʼn nuwe speler-ondersteuningsprogram in. Die uitvoerende hoof van die Amerikaanse tennisvereniging, Craig Tiley, sê hulle is trots om die rekord-prysgeld aan te bied en spelers se voordele uit te brei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….