Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbokke gaan in hulle tradisionele Groen en Goud speel in Saterdag se toets teen Ierland in Dublin. Hulle het in hulle alternatiewe wit truie gespeel in hulle vorige toerwedstryde teen Frankryk en Italië. Ierland gaan wit truie dra in plaas van hulle gewone heldergroen. Die spanne het gekies om die ou tradisie te volg van die tuisspan wat sy alternatiewe uitrusting dra wanneer die truie se kleur ooreenkom. Die Bokke het hulle alternatiewe wit truie gedra in verlede jaar se twee toetse teen Ierland in Suid-Afrika.
Intusssen sê die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe hulle sal Saterdag ten volle gebruik moet maak van geleenthede om punte aan te teken. Suid-Afrika het Ierland laas in 2012 op die Aviva-stadion geklop en Saterdag se kragmeting bied ‘n kans om na 13 jaar weer sukses te behaal in die Ierse hoofstad. Kolbe verwag ʼn fisiese wedstryd en beklemtoon hulle sal moet aanpas by die scenario’s wat op die veld uitspeel:
# Krieket: Die Perth-stadion se kolfblad gaan ‘n onbekende faktor wees vir Australië sowel as Engeland wanneer dié seisoen se reeks om die As môre afskop. Dis ‘n relatiewe nuwe veld nadat Australië die ikoniese Waca laat vaar het, terwyl ongewone weersomstandighede en ‘n nuwe kolfblad wat net ‘n maand gelede afgelewer is, ook bydra tot die onsekerheid. Wes-Australië se hoof-baanopsigter, Isaac McDonald, glo nie die weer sal die kolfblad se karakter verander nie, en meen spoed en die wip van die bal moet altyd verwag word.
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Italië, is deur na sy vierde agtereenvolgende halfeindstryd op die Davisbeker-jaareindtoernooi nadat hulle Oostenryk in Bologna geklop het. Matteo Berrettini het die gasheer laat voorloop met ‘n oorwinning oor nommer 177 op die wêreldranglys, Jurij Rodionov. Flavio Cobolli het daarna met Oostenryk se nommer-een, Filip Misolic, afgereken. Italië, wat die eerste land in 53-jaar kan word om drie agtereenvolgende titels te wen, kom môre in die halfeindronde teen België te staan. Argentinië speel vandag in die kwarteindronde teen Duitsland, en Spanje pak die Tsjeggiese Republiek.
En nog tennisnuus: Die 20-malige Grand Slam-kampioen, Roger Federer, word in Augustus volgende jaar in die sport se internasionale heldesaal opgeneem. Die 44-jarige Switserse legende, wat in 2022 uitgetree het, het 103 toervlak-titels gewen. Federer is die enigste kandidaat wat genoeg ondersteuning in die spelerkategorie ontvang het om die heldesaal se klas van 2026 te haal. Spelers word vyf jaar ná uittrede oorweeg en moet deur 75-persent van die kiesersgroep aangewys word. Federer sê dis ʼn groot voorreg om op hierdie manier deur die sport vereer te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….