Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-slot Franco Mostert se permanente rooikaart in verlede naweek se toets teen Italië is herroep, wat hom beskikbaar maak vir Saterdag se kragmeting met Ierland in Dublin. Hy is in die 12de minuut in Turyn afgestuur, wat die Bokke gedwing het om die res van die wedstryd met slegs 14 spelers te speel. Hulle het nietemin 32-14 gewen. ‘n Tugkomitee het bevind dat die wedstrydbeamptes ‘n fout gemaak het, en die rooikaart na geel afgradeer. Afrigter Rassie Erasmus kondig môre sy span aan.
Die Ierse senter Robbie Henshaw verwag intussen Saterdag se kragmeting sal bepaal waar sy span tans staan. Ierland het eers teen Nieu-Seeland verloor en toe nie beïndruk in die oorwinning oor Japan nie, maar daarna met mening teruggeslaan om die Wallabies 46-19 af te ransel. Henshaw hoop hulle kan dit opvolg met nog ‘n puik vertoning. Hy sê die Springbokke is tans die span waaroor almal praat omdat hulle oorwinnings uit oënskynlike hopelose situasies kan skep.
# Krieket: Die snelbouler Lungi Ngidi is ingesluit in Suid-Afrika se groep vir die tweede toets teen Indië, wat Saterdag in Guwahati begin. Die 30-jarige speler dien as dekking vir Kagiso Rabada, wat die eerste toets in Kolkata misgeloop het nadat hy ‘n rib-besering opgedoen het tydens oefening. Suid-Afrika het die wedstryd met 30 lopies gewen. Ngidi het nog slegs een toets in Indië gespeel. Intussen sukkel Marco Jansen en Simon Harmer ook met beserings wat hulle uit die tweede toets kan hou.
Die voormalige Engelse bouler Stuart Broad sê intussen sy land moet goed speel in die eerste twee toetse om ‘n kans te hê om die reeks om die As te wen. Die besoekers het die reeks laas in 2011 in Australië gewen, waarna die Baggy Green hul laaste drie tuisreekse oortuigend ingepalm het. Broad sê Engeland het ‘n skokkende rekord op die Gabba in Brisbane waar die derde toets plaasvind, en gaan ‘n groot probleem hê as hulle die eerste twee verloor. Die eerste toets begin Vrydag in Perth.
# En sokker: Skotland het die eerste keer in 28 jaar vir die Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer toe hy Denemarke 4-2 verslaan het. Scott McTominay, Lawrence Shankland, Kieran Tierney en Kenny McLean se doele het Skotland se outomatiese kwalifisering verseker. Oostenryk was een doel agter, maar het teruggeveg en sy wedstryd teen Bosnië-Herzegowina het met een-elk gelykop geëindig. Dit verseker sy eerste deelname sedert 1998. Die 2010-kampioen, Spanje, asook België en Switserland is deur na volgende jaar se Wêreldbekertoernooi wat in die Kanada, Amerika en Mexiko gehou word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….