Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die pasgestigte Nasies-kampioenskap waar die 12 beste lande in die wêreld met mekaar meeding, sal die spel wêreldwyd verander. Die Springbokke is in Julie volgende jaar gasheer vir Engeland, Skotland en Wallis aan die begin van die tweejaarlikse toernooi. Oberholzer sê die kompetisie sal die bestaande internasionale gleuwe van Julie en November verander, wat beteken elke toets sal nou tel vir meer as net spog-regte en punte op die wêreldranglys.
Die Springbok-hulpafrigter, Mzwandile Stick, het intussen uitgevaar teen wat hy beskryf as die onregverdige en teenstrydige beslissings wat tydens die jaareindtoer teen hulle ingestel is. Die slot Franco Mostert het Saterdag teen Italië ‘n permanente rooikaart ontvang vir ‘n beweerde hoogvat – ‘n week nadat Lood de Jager dieselfde lot teen Frankryk gely het. Die Bokke berei hulle voor om Ierland Saterdag in Dublin te pak. Stick sê hulle raak toenemend ontnugter met die huidige toedrag van sake:
# Krieket: Die gewese Indiese kolwer Cheteshwar Pujara aanvaar nie die huidige oorgangstydperk as verskoning vir die nederlaag teen Suid-Afrika in die eerste toets in Kolkata nie. Dit was die Proteas se eerste oorwinning in die land sedert 2010. Die besoekers het gesukkel met die kolf en kon slegs altesaam 313 lopies aanteken in hul twee beurte, maar Indië is vir net 93 uitgeboul terwyl hulle ‘n wenteiken van slegs 124 gejaag het. Pujara bevraagteken die kolwers se benadering op ‘n onvoorspelbare kolfblad. Die laaste toets begin Saterdag in Guwahati.
# Tennis: Frankryk en België pak mekaar vandag in die eerste kwarteindstryd van die Davisbeker-eindtoernooi in Bologna, Italië. Die gasheer en tweemalige verdedigende kampioen speel môre teen Oostenryk, en die ander twee kwarteindstryde word Donderdag beslis. Spanje, aangevoer deur die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, kom te staan teen die Tsjeggiese Republiek, en Argentinië teen Duitsland, wat spog met die wêreld-nommer-drie, Alexander Zverev. Die halfeindstryde word Vrydag en Saterdag gespeel en die eindstryd Sondag.
# En sokker: Die viermalige wenner, Duitsland, het sy plek bespreek in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Julian Nagelsmann se span het Slowakye in die laaste Groep A-wedstryd 6-0 afgeransel. Nederland het ook gekwalifiseer toe hy Litaue 4-0 verslaan het. Pole en Slowakye het hul plek in die uitspeelronde verseker. Die trekking vir die uitspeelronde vind Donderdag plaas. Dit sluit 16 spanne in wat meeding om vier Wêreldbeker-plekke. Dié kwalifiseringstoernooi word in Maart volgende jaar gespeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….