Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Suid-Afrikaners Senuran Muthusamy en Laura Wolvaardt is onderskeidelik aangewys as die Internasionale Krieketraad se mans- en vrouespeler van die maand vir Oktober. Muthusamy is vereer vir sy briljante prestasie met die kolf en die bal tydens die Proteas se reeks van twee toetse in Pakistan. Die 31-jarige het 106 lopies aangeteken en elf paaltjies laat kantel. Wolvaardt het die Protea-vroue na die eindstryd van die eendag-Wêreldbekertoernooi gelei. Sy het 470 lopies aangeteken, insluitend twee honderdtalle en drie vyftigtalle.
# Rugby: Die vleuel Edwill van der Merwe sê die Springbokke verwag ‘n vinnige, onvoorspelbare stryd Saterdag teen Italië in Turyn. Albei spanne het die afgelope naweek besielende oorwinnings behaal: die Bokke het Frankryk ondanks ‘n rooikaart 32-17 geklop, terwyl die Azzurri die Wallabies 26-19 verslaan het. Van der Merwe beskryf Italië as ‘n span wie se aanvallende struktuur en flair dié van Argentinië weerspieël, en skryf dit toe aan die Argentynse afrigter Gonzalo Quesada, se invloed. Bok-hoofafrigter Rassie Erasmus sal vanmiddag sy span aankondig.
Twee Springbokke, die 23-jarige agsteman Cameron Hanekom en die 24-jarige stut en haker Jan-Hendrik Wessels, het intussen hul kontrakte met die Bulle verleng. Hulle sal nou tot die einde van 2028 se seisoen vir die Pretoriase unie speel. Hanekom en Wessels word beskou as invloedryke toetsspelers van die toekoms. Uitvoerende hoof Edgar Rathbone sê hulle roem daarop dat hulle ‘n klub is waar kampioene gemaak word, en die twee spelers se besluit om langer te bly, is ʼn groot mosie van vertroue in die Bulle-familie.
# Sokker: Zambië se afrigter, Moses Sichone, beskuldig Bafana Bafana dat hulle die besoekers onderskat voor Saterdag se internasionale vriendskaplike wedstryd in Gqeberha. Suid-Afrika gebruik die ontmoeting om voor te berei vir die Afrikabekertoernooi wat die 21ste van volgende maand in Marokko begin. Sichone het reageer op sommige Suid-Afrikaanse sokkerkringe wat voorstel Bafana Bafana sou meer gebaat het met sterk teenstand soos Brasilië. Hy het beloof om die gasheer verkeerd te bewys. Sichone sê Zambië neem die wedstryd baie ernstig op en hoop om ‘n positiewe uitslag te kry.
# En tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, het sy plek bespreek onder die laaste vier van die ATP-jaareindtoernooi in Turyn. Die Italianer het Alexander Zverev van Duitsland geklop en sy seges op binnenshuise harde bane tot 28 uitgebrei. Sinner staan steeds ʼn kans om die jaar as nommer-een af te sluit, maar moet sy titel verdedig en hoop Carlos Alcaraz wen nie nog ʼn wedstryd nie. Felix Auger-Aliassime van Kanada het intussen sy eerste oorwinning van die toernooi behaal toe hy met die Amerikaner Ben Shelton afgereken het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….