Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-slot Lood de Jager verskyn vandag voor ‘n dissiplinêre paneel na sy omstrede permanente rooikaart teen Frankryk verlede naweek. Hy is net voor rustyd afgestuur nadat sy skouer die Franse heelagter Thomas Ramos se kop getref het, maar die Bokke het steeds ‘n oortuigende oorwinning van 32-17 behaal. Sommige kenners meen dit moes ‘n 20-minuut rooikaart gewees het, want Ramos het gesak net voor De Jager hom getref het. Skeidsregter Angus Gardner is uiteindelik deur sy hulpskeidsregters oortuig om De Jager permanent af te stuur.
Die veelsydige Springbok André Esterhuizen sê intussen hulle sal die ondervinding van vanjaar se twee toetse teen Italië gebruik wanneer hulle Saterdag weer teen mekaar te staan kom in Turyn. Die Bokke het in Julie albei tuistoetse teen die Azzurri gewen. Esterhuizen was verlede naweek in uitstekende vorm teen Frankryk toe hy tussen senter en flank gewissel het na De Jager se rooikaart. Hy het na aanleiding van die Italianers se onlangse oorwinning oor die Wallabies gesê Italië is ‘n onvoorspelbare span en hulle verwag ‘n taai stryd.
# Krieket: Die bekende kommentator Kass Naidoo glo Suid-Afrika het ‘n vroueliga nodig om voort te bou op die sukses van die Protea-vrouespan in die eendag-Wêreldbekertoernooi in Indië. Hulle het in die eindstryd voor die gasvroue geswig nadat hulle feitlik reg deur die toernooi beïndruk het. Naidoo is veral trots op Suid-Afrika se oortuigende oorwinning oor Engeland in die halfeindstryd. Sy sê die meeste van Indië se vroue speel in die Vroue-Premierliga en Suid-Afrika het ‘n soortgelyke kompetisie nodig sodat die land se vroue kan bekers wen.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy hoop op ‘n oortuigende oorwinning teen Zambië omdat hy hul plek op die FIFA-ranglys wil verbeter. Saterdag se internasionale vriendskaplike wedstryd in Gqeberha is deel van Suid-Afrika se voorbereiding vir die Afrikabekertoernooi wat volgende maand in Marokko begin. Bafana Bafana is in Groep B met die sewemalige wenners en rekordhouer Egipte, Angola en Zimbabwe. Broos sê sy spelers moet dieselfde fokus en mentaliteit hê wat hulle in die Wêreldbeker-kwalifiseerders gehad het:
# En ten slotte, tennis: Die tweede-gekeurde Jannik Sinner van Italië het sy titel verdedig met ʼn oorwinning in die ATP-jaareindtoernooi in Turyn. Die 24-jarige Sinner het met die Kanadees Felix Auger-Aliassime afgereken om sy kanse op die eerste plek op die wêreldranglys lewend te hou indien hy die Spanjaard Carlos Alcaraz kan klop. Taylor Fritz van Amerika het die Italianer Lorenzo Musetti verslaan, wat die eerste keer aan die toernooi deelneem. Sinner sê dis altyd spesiaal om voor sy tuisskare te speel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….