Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Suid-Afrika bly bo-aan die wêreldranglys na Saterdag se oorwinning van 32-17 oor Frankryk in Parys. Die Springbokke se voorsprong oor Nieu-Seeland het tot 1,71 punte gestyg. Ierland en Engeland is steeds in die derde en vierde plekke na oorwinnings oor onderskeidelik Japan en Fidji, en Frankryk is steeds vyfde. Die top ses spanne sal na die Herfsnasiesreeks in groep een wees vir die loting vir 2027 se Wêreldbekertoernooi op 3 Desember, met die sewende tot 12de spanne in groep twee.
# Sokker: Suid-Afrika is die heel eerste keer deur na die uitklopfase van die Onder 17 FIFA-manswêreldbekertoernooi in Doha, Katar. Amajimbos het vir die laaste 32 gekwalifiseer ondanks hul nederlaag van 3-1 teen Italië. Hulle vier punte was genoeg om Katar en Bolivië verby te steek, wat gelykop gespeel het sonder doele, en tweede te eindig in Groep A. België, Japan, Senegal, Kroasië, Egipte, Venezuela, Switserland en die Republiek van Korea is ook deur na die uitklopfase.
# Gholf: Casey Jarvis van Suid-Afrika het sy eerste Sonskyntoer-titel ingepalm in die Hyundai Ope op die Ebotse-gholflangoed in Benoni. Die 22-jarige het geëindig met ‘n ronde van 68 vir ‘n totaal van 23 onder baansyfer. Sy vriend en landgenoot Ryan van Velzen het tweede geëindig op 22 onder. Die Sonskyntoer-groentjie Warwick Purchase was derde op 20 onder, en is in die wedloop vir die Fortress Nuweling van die Jaar-titel. Jarvis sê die laaste ronde was moeilik:
# Motorsport: Die McLaren-renjaer Lando Norris se oorwinning in die Sao Paulo Grand Prix in Brasilië het sy voorsprong op sy spanmaat, Oscar Piastri, in die bestuurderskampioenskap tot 24 punte vergroot. Kimi Antonelli van Mercedes het tweede klaargemaak en Max Verstappen van Red Bull wat uit die kuipebaan weggespring het, derde. George Russell van Mercedes was vierde en Piastri vyfde, nadat hy gestraf is omdat hy ‘n botsing veroorsaak het. Norris beskryf dit as die perfekte naweek nadat hy Saterdag ook die snelwedren gewen het:
# En tennis: Die topgekeurde Carlos Alcaraz het sy strewe na ʼn eerste ATP-jaareindtoernooi-titel en die eerste plek op die wêreldranglys op ‘n wen-noot afgeskop in Turyn, Italië. Die 22-jarige Spanjaard het die Australiër, Alex de Minaur, geklop in sy eerste wedstryd in die Jimmy Connors-groep. In die Björn Borg-groep het die tweemalige wenner, Alexander Zverev, ook goed begin en die Amerikaanse nuweling Ben Shelton verslaan. Alcaraz sê hy is gemotiveer om die toernooi te wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….