Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus beplan om ‘n sterk span na Buenos Aires te neem vir volgende maand se eenmalige toets teen Argentinië. Hy sê Los Pumas is ‘n goeie span wat die Bokke geklop het in hul laaste toets in Argentinië in 2024, en die Springbokke besef hoe moeilik dit is om hulle tuis te verslaan. Erasmus gaan die nasionale groep in twee verdeel – een vir die wedstryd teen die Pumas op 8 Augustus, terwyl die res agterbly om te begin voorberei vir die toetsreeks teen die All Blacks.
# Sokker: Die Konfederasie van Afrika-sokker het die prysgeld aansienlik verhoog vir die Afrikabekertoernooi vir vroue wat Sondag in Marokko begin. Die kampioen sal nou byna 33-miljoen-rand ontvang, die naaswenner 12,4-miljoen-rand en die span wat derde kom 8,2-miljoen-rand. Elkeen van die 16 deelnemende spanne ontvang 2,5-miljoen-rand. CAF se president, Patrice Motsepe, sê die finansiële hupstoot beklemtoon hul toewyding aan groei en die langtermyn-volhoubaarheid van vroue-sokker in Afrika:
Nog sokkernuus: Suid-Afrika se beheerliggaam, SAFA, verwerp berigte dat Bafana Bafana se hoofafrigter, Hugo Broos, ‘n aanbod ontvang het om sy kontrak met ʼn jaar te verleng en sê dis vals en misleidend. Vroeër die week is berig SAFA het sy kontrak verleng omdat die kwalifiseerders vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi reeds in September begin. Broos se kontrak verstryk die einde van dié maand. SAFA sê ʼn amptelike aankondiging oor die samestelling van Bafana Bafana se tegniese span sal gedoen word sodra die toepaslike prosesse afgehandel is.
# Die Statebondspele begin vandag in Glasgow, Skotland. Meer as drie-duisend atlete uit 74 lande sal aan 215 medalje-items in 16 sportsoorte deelneem. Altesaam 112 Suid-Afrikaanse atlete sal die land verteenwoordig. Glasgow is aangewys nadat die Australiese staat Victoria in Julie 2023 as gasheer onttrek het. Glasgow 2026 se uitvoerende hoof, Phil Batty, glo die vereenvoudigde, goedkoper weergawe van die geleentheid kan dit vir toekomstige geslagte red:
# En krieket: Afganistan het die ervare Rahmat Shah aangestel as nuwe kaptein van hul eendag- en toets-span, met Rahmanullah Gurbaz as onderkaptein. Dit volg nadat Hashmatullah Shahidi Dinsdag uitgetree het na ʼn vyfjaar-termyn waartydens Afganistan sesde was in 2023 se Wêreldbekertoernooi. Rahmat se eerste taak as kaptein sal volgende maand se eendagreeks van vyf wedstryde teen Ierland wees. Die land se krieketraad sê Shah is heeltemal in staat om die belangrike verantwoordelikheid te dra danksy sy uitgebreide ervaring in internasionale krieket, leierskap en die algehele span-struktuur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….