Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
Ons begin met krieketnuus:
# Laura Wolvaardt van Suid-Afrika is aangewys as kaptein van die Toernooi-span van die eendag-Wêreldbekertoernooi vir vroue. Die span van 12 lede bevat ses spelers wat in die eindstryd tussen Indië en die Proteas gespeel het. Indië, wat die toernooi die eerste keer gewen het, het drie spelers in die span: Smriti Mandhana, Jemimah Rodrigues en Deepti Sharma. Suid-Afrika het ook drie bygedra: Wolvaardt, Marizanne Kapp en Nadine de Klerk. Drie Australiese spelers, twee Engelse spelers en Sidra Nawaz van Pakistan voltooi die groep.
Pakistan het Suid-Afrika se mans intussen in Faisalabiad met twee paaltjies verslaan in die eerste eendagwedstryd. Quinton de Kock het die meeste lopies aangeteken met 63 van 71 balle, terwyl die nuweling Lhuan-dré Pretorius 57 lopies aangeteken het. Die Proteas is in hulle laaste boulbeurt vir 263 uitgeboul. Naseem Shah en Abrar Ahmed het elk drie paaltjies geneem. Salman Agha het daarna 62 lopies aangeteken en die gashere het die teiken bereik met twee balle oor. Die tweede wedstryd word môre op dieselfde veld gespeel.
En nou rugby:
# Die Springbokke verwag nie dat Frankryk wraak sal wil neem wanneer hulle Saterdag in Parys teen mekaar speel nie. Dit is die twee spanne se eerste ontmoeting sedert Suid-Afrika die gashere in die kwarteindronde van 2023 se Wêreldbeker-toernooi geklop het. Dit het gelei tot groot kritiek op skeidsregter Ben O’Keefe en doodsdreigemente teen sommige Bokke. Hulpafrigter Felix Jones sê hulle sal slegs op hulle eie spel fokus. Hy erken dat hulle die Franse as ‘n groot bedreiging beskou en besef dat hulle die regte span moet kies.
Die Ierse slot Tadhg Beirne se omstrede rooikaart in die toets teen Nieu-Seeland in Chicago die afgelope naweek is intussen herroep. Die 33-jarige het ‘n geelkaart gekry toe hy en Beauden Barrett mekaar getref het. Die vuilspel-hersieningsbeampte, Dan Jones, het dit daarna na rooi opgeskuif. ‘n Onafhanklike tugkomitee het Beirne se voorlegging aanvaar dat dit wel vuilspel was, maar nie die rooikaart-drempel bereik het nie. Hy sal beskikbaar wees om Saterdag in Dublin teen Japan te speel.
# En ten slotte: LIV Gholf vergroot sy toernooie van volgende jaar af van 54 na 72 putjies. Die kompetisies sal vier dae duur en toernooie sal Donderdae begin, wat die Saoedi-Arabies-gesteunde liga in ooreenstemming met PGA-toernooie bring. Die 72 putjies kan LIV se heraansoek moontlik maak dat sy toernooie tot wêreldranglys-punte mag bydra. LIV se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, sê die uitbreiding versterk die liga en daag sy elite-spelers uit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….