Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika speel in Sondag se eindstryd van die Wêreldbekertoernooi teen die wenner van vandag se tweede halfeindstryd tussen Indië en Australië. Kaptein Laura Wolvaardt het gister ‘n meesterlike kolfvertoning gelewer toe Suid-Afrika Engeland in Guwahati met 125 lopies geklop het om hul eerste eendag-eindstryd te haal. Wolvaardt het 169 lopies gemoker, die hoogste telling ooit vir ‘n Suid-Afrikaner in ‘n Wêreldbekertoernooi, en die Proteas het ‘n indrukwekkende 319 vir sewe aangeteken. Marizanne Kapp het daarna vyf paaltjies geneem toe Engeland vir 194 uitgeboul is. Wolvaardt sê vennootskappe was die sleutel:
Engeland se afrigter, Charlotte Edwards, het intussen erken dit gaan moeilik wees om die span reg te ruk na gister se nederlaag. Engeland het vroeër vyf uit agt wedstryde gewen. Edwards sê sy is nietemin trots op wat die span bereik het:
# Rugby: Die Springbok- en Bulle-stut, Jan-Hendrik Wessels, se appèl teen sy skorsing van nege weke het misluk, maar dis wel met een wedstryd verkort. Hy is gestraf nadat Connacht se flank, Josh Murphy, hom beskuldig het dat hy hom twee weke gelede betas het tydens ‘n Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd. ʼn VRK-appèlpaneel het bevind die tugpaneel het fouteer met die skorsing van nege weke en nie Wessels se gedrag in ag geneem nie. Hy sal die Springbokke se jaareindtoer en die Bulle se twee Kampioenebeker-wedstryde teen Bordeaux en Northampton misloop.
Die vleuel Kurt-Lee Arendse is intussen opgewonde om Saterdag weer vir die Springbokke te speel teen Japan in Londen. Dit sal slegs sy vyfde toets van die seisoen wees nadat beserings hom uit die ander ses gehou het. Arendse se laaste toets was in Augustus teen Australië. Hy speel saam met Ethan Hooker terwyl sy gereelde vleuel-maat, Cheslin Kolbe, heelagter speel. Die enigste erkende nommer 15 in die groep, Damian Willemse, sukkel met ‘n besering en sal eers vir volgende naweek se wedstryd teen Frankryk oorweeg word.
# En gholf: Ses putjies van St Andrews se ‘Ou Baan’ word verleng vir 2027 se Ope, hoofsaaklik deur die afslaanbowwe te verskuif. Dit sal die algehele baanlengte tot ses-duisend-807-meter verleng. Ander veranderinge sluit in die verskuiwing van sandkuile op die tweede putjie en die byvoeging van sandkuile op drie ander putjies. Neil Coulson van die bestuursmaatskappy St Andrews Links Trust sê die werk sal eienskappe van die baan herstel wat oor die jare geleidelik verander het, en ander verder verfyn om die baan se unieke karakter te behou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….