Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbokke sal dalk sonder die heelagter Damian Willemse moet klaarkom vir die vyf toetse op die jaareind-toer. Hy het Saterdag ‘n dyspierbesering opgedoen toe die Stormers Benetton 31-16 geklop het in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die 27-jarige Willemse is in afrigter Rassie Erasmus se groep vir November se toetse teen Japan, Frankryk, Italië, Ierland en Wallis. Die Stormers het nog nie aangekondig hoe erg Willemse se besering is nie. Hy is die enigste erkende heelagter in die Bok toergroep.
Erasmus sê intussen hy is vol hoop vir die toer. Die eerste groep spelers en bestuurslede het die naweek vertrek, en die volledige groep kom vandag in die Verenigde Koninkryk byeen voor Saterdag se eerste toerwedstryd teen Japan op Wembley in Londen. Erasmus erken die toer gaan ‘n uitdaging wees weens die gehalte van hul teenstanders.
# Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, is nie beskikbaar vir die eerste toets om die As teen Engeland nie. Die 32-jarige sukkel met ʼn laerug-besering. Die eerste wedstryd begin op 21 November in Perth, met Steve Smith wat die span in Cummins se afwesigheid sal aanvoer terwyl Scott Boland waarskynlik die plaasvervanger in die boulaanval sal wees. Afrigter Andrew McDonald sê hulle hoop Cummins sal gereed wees vir die tweede toets wat op 4 Desember in Brisbane begin:
# Motorsport: McLaren se renjaer, Lando Norris, het uit sy voorste wegspringplek ʼn besliste oorwinning behaal op die Grand Prix in Mexiko-stad en loop nou voor in die bestuurderskampioenskap. Die Brit het 30 sekondes voor Charles Leclerc van Ferrari oor die wenstreep gejaag met Max Verstappen van Red Bull in die derde plek. Haas se renjaer, Ollie Bearman, het die eerste vierde plek van sy loopbaan behaal en Oscar Piastri van McLaren was vyfde. Norris, wat een punt voor sy spanmaat Piastri is, sê met vier wedrenne oor, fokus hy op sy eie prestasie:
# En tennis: Die topgekeurde Jannik Sinner het sy vierde titel van die seisoen en sy 22ste loopbaan-kroon gebuit toe hy die Weense Ope in Oostenryk gewen het. Die Italianer was een stel agter, maar het ingehaal en die Duitser, Alexander Zverev, geklop. Die 24-jarige Sinner is die eerste man wat agt ATP-eindstryde in agtereenvolgende seisoene haal sedert die Serwiër Novak Djokovic dit in 2015-2016 reggekry het. Sinner sê dis wonderlik om nog ʼn titel te wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….