Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika het Pakistan met agt paaltjies verslaan in die tweede en laaste toets in Rawalpindi om die reeks te deel. Die Protea-wegbreekbouler Simon Harmer het ses paaltjies platgetrek en Pakistan in sy tweede beurt help uitboul vir 138. Suid-Afrika het die teiken van 68 maklik gehaal danksy kaptein Aiden Markram se 42 en Ryan Rickelton se onoorwonne 25. Pakistan het die eerste toets in Lahore met 93 lopies gewen. Die twee lande pak mekaar nou in drie T20’s.
# Sokker: Banyana Banyana en die Demokratiese Republiek die Kongo het gelykop gespeel in hulle eerste Afrikabeker-kwalifiseerder in Kinshasa. Kgalebane Mohlakoana het Suid-Afrika ‘n voorsprong gegee, maar Ruth Kipoyi Monique het die telling net voor rustyd gelykop gemaak. Nie een span kon in die tweede helfte met ʼn doel slaag nie. Hoewel die uitslag gelykop was, spog Banyana Banyana met die belangrike weg-doel. Die tweede wedstryd vind Dinsdag in Johannesburg plaas.
# Tennis: Die wêreld se twee topspelers, die Spanjaard Carlos Alcaraz en die Italianer Jannik Sinner, sal volgens berigte aan die begin van 2026 se seisoen ‘n vertoonwedstryd in Suid-Korea seel. Tydens vorige wedstryde het spelers soos Rafael Nadal en Roger Federer, Novak Djokovic en Andy Roddick, en Venus Williams en Maria Sharapova teen mekaar gespeel. Die wedstryd sal op die 10de Januarie in Seoel plaasvind. Alcaraz het tot dusver 10 uit sy 15 ontmoetings met Sinner op die ATP-toer gewen.
# Motorsport: Nege voltydse renjaers sal die eerste oefening vir die naweek se Formule Een Grand Prix in Mexikostad misloop as deel van die verbintenis om nuwelinge minstens twee oefen-geleenthede per seisoen te gee. Hulle sluit in die huidige wêreldkampioen, Max Verstappen van Red Bull, Lando Norris van McLaren en Lewis Hamilton van Ferrari. Die voorloper in die kampioenskap, die Australiër Oscar Piastri van McLaren, sal wel oefenrondes aflê, wat beteken dat hy waarskynlik in Desember die eerste oefening van die laaste wedren in Abu Dhabi sal misloop.
# En die Internasionale Olimpiese Komitee het Indonesië se weiering veroordeel om Israelse atlete toe te laat om aan die Wêreld-gimnastiekkampioenskap in Jakarta deel te neem weens die land se militêre veldtog in Gaza. Die IOK sê alle internasionale sportfederasies sal aangesê word om geen geleenthede of vergaderings in Indonesië aan te bied nie. Die komitee het ook besluit om enige dialoog met Indonesië se Nasionale Olimpiese Komitee te staak oor die aanbieding van 2030 se Jeug-spele en 2036 se Olimpiese Spele.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….