Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die voormalige Junior Springbok-stut en -kaptein, Zachary Porthen, het sy eerste Springbok-oproep verdien in die groep van 36 vir volgende maand se toer. Ben-Jason Dixon, Johan Grobbelaar en Gerhard Steenekamp kan die eerste keer die seisoen vir Suid-Afrika speel, terwyl Jean Kleyn, Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe terug is na beserings. Tien spelers is op bystand geplaas, insluitend Evan Roos, Bongi Mbonambi en Sebastian de Klerk. Willie le Roux is uitgelaat. Die Springbokke speel op 1 November teen Japan op Wembley in Londen.
# Padwedlope: Die organiseerders van die Kaapstadse marathon sê vanjaar se deelnemers sal geborgde inskrywing vir volgende jaar se wedloop ontvang. Gister se wedloop is op die nippertjie gekanselleer weens rukwinde wat strukture beskadig het voordat die skoot afgevuur kon word. Die marathon was daarop gemik om Abbott World Marathon Majors-status te verwerf, om erken te word as een van die mees gesogte wêreldwedlope. Daar is tans slegs sewe marathons in die elite-klub: Tokio, Boston, Londen, Berlyn, Chicago, New York Stad en Sydney.
# Sokker: Marokko het Argentinië in Chili 2-0 geklop om die eerste keer die Onder-20-Wêreldbeker te wen. Dis die eerste Afrika-land wat die titel opraap sedert Ghana in 2009. Yassir Zabiri se doele in die eerste helfte het Marokko se eerste Wêreldbeker-titel ooit in enige ouderdomsgroep beklink. Argentinië was die gunsteling nadat hy ‘n rekord ses titels gewen en slegs een uitklopwedstryd verloor het. Die Amerikaner Benjamin Cremaschi het die toernooi se goue bal gewen en Argentinië se doelwagter, Santino Barbi, die goue handskoen.
# Krieket: Engeland het die mede-gasvrou, Indië, in Indore met vier lopies verslaan en daarmee die derde land geword wat deurdring na die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi vir Vroue. Engeland het die loot gewen, eerste gekolf en 288 vir agt aangeteken, met Heather Knight wat 109 van 91 balle gemoker het. Indië se aanvangskolwer, Smriti Mandhana, het daarna 88 lopies aangeteken, maar Indië het op 284 vir ses geëindig vir hul derde agtereenvolgende nederlaag van die toernooi. Engeland sluit by Suid-Afrika en Australië aan in die halfeindronde.
# En ten slotte, motorsport: Red Bull se renjaer, Max Verstappen, het ʼn oorheersende vertoning gelewer in die Amerikaanse Grand Prix vir sy vyfde sege van die seisoen. Lando Norris van McLaren was tweede en Charles Leclerc van Ferrari derde. Die voorloper in die bestuurderskampioenskap, Oscar Piastri van McLaren, was vyfde. Verstappen, wat strewe na ʼn vyfde agtereenvolgende bestuurderstitel, het 40 punte minder as Piastri, terwyl Norris 14 punte kort om voor te loop. Verstappen sê hy kan nog die kampioenskap wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….