Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas se kaptein, Aiden Markram, het hul nederlaag van 93-lopies teen Pakistan in die eerste toets in Lahore toegeskryf aan die toporde-kolwers se onvermoë om mededingende tellings te behaal. Suid-Afrika is in sy tweede beurt vir 183 uitgeboul na ‘n eerstebeurt-agterstand van 109. Tony de Zorzi se 104 en Ryan Rickelton se 71 was die enigste hoogtepunte, terwyl die draaibouler Senuran Muthusamy se 11 paaltjies uitgekanselleer is. Markram verwag dieselfde omstandighede in die tweede toets in Rawalpindi en sê hyself en die ander kolwers sal moet verbeter.
# Rugby: Reinhardt Ludwig sal môreaand kaptein wees van ‘n feitlik nuwe Bulle-span vir die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Connacht in Galway, Ierland. Hoofafrigter Johan Ackermann het elf veranderinge aan sy opdrafspan gemaak na verlede week se nederlaag teen Ulster wat die Pretoriase span van eerste na sesde op die punteleer laat tuimel het. Die span is sonder die Springbok-losskakel Handré Pollard, wat terug is in Suid-Afrika vir die geboorte van sy tweede kind. Keagan Johannes sal die nommer tien-trui dra, met die Springbok-staatmaker Willie le Roux op heelagter.
Vyf lede van die Junior Springbok-span wat vroeër vanjaar Wêreldrugby se Onder-20-kampioenskap in Italië gewen het, is intussen ingesluit in die oefengroep van SA Rugby se Onder-19 Akademie. Hulle speel van die einde van die maand drie wedstryde in Europa. Die seëvierende Junior Bokke wat deel is van die oefengroep is die SA onder-20-kaptein, Riley Norton, Oliver Reid, Phiwayinkosi “Rambo” Kubheka, Siphosethu Mnebelele en Vusi Moyo. Die groep van 36 sal twee wedstryde in Frankryk speel en een in Ierland.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, het ‘n groep van 25 spelers aangekondig vir Woensdag se Afrikabeker-kwalifiseerder teen die Demokratiese Republiek die Kongo. Die tweede wedstryd vind op 28 Oktober in Johannesburg plaas. Thembi Kgatlana, wat in April laas vir die nasionale span gespeel het, is ook in die groep. Ellis het sewe spelers ingesluit wat oorsee gebaseer is. Die toernooi vind volgende jaar die tweede keer binne twee jaar in Marokko plaas.
# En motorsport: Die Suid-Afrikaner Brad Binder, wat tans sy swakste seisoen in MotoGP ondervind sedert sy buiging in 2020, sê hy is vasberade om hierdie seioen sterk te eindig. Die renjaer van Red Bull KTM is tans in die 11de plek met slegs 118 punte, met nog vier wedrenne oor. Hy het twee weke terug in Indonesië van 15de plek teruggeveg en vierde geeïndig, en die podium met slegs ‘n sekonde misgeloop. Binder sê hy vertrou hy kan sake omkeer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….