Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika het Bangladesj in Visakhapatnam met drie paaltjies verslaan vir hulle derde agtereenvolgende oorwinning in die Wêreldbekertoernooi vir vroue. Shorna Akter se onoorwonne 51 het Bangladesj tot ‘n mededingende 232 vir ses gevoer. Die Proteas is eers beperk tot 78 vir vyf, maar Marizanne Kapp en Chloé Tryon het ‘n vennootskap van 85 lopies aangeteken om Suid-Afrika in die wedstryd te hou. Nadine de Klerk het weer tot die redding gekom met ‘n onoorwonne 37 om die Proteas na oorwinning te lei met drie balle oor.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê sy spelers is geestelik voorberei vir vanaand se moet-wen Wêreldbeker-Groep C-kwalifiseerder teen Rwanda in Mpumalanga. Suid-Afrika het Vrydag sonder doele gelykop gespeel teen Zimbabwe en moet Rwanda nou klop en hoop Nigerië verslaan Benin om outomaties te kwalifiseer vir volgende jaar se toernooi in Noord-Amerika. Broos sê hy het volle vertroue in sy spelers dat hulle die wedstryd gaan wen:
Geen land het al ooit die Wêreldbeker met ‘n buitelands-gebore afrigter gewen nie, maar die Italianer Carlo Ancelotti sê daar is altyd ‘n eerste keer terwyl hy glorie met Brasilië nastreef. Hy is die land se eerste oorsese afrigter in ses dekades nadat hy in Mei oorgeneem en die vyfmalige wêreldkampioen gehelp het om hul kaartjie vir volgende jaar se toernooi in Noord-Amerika te bespreek. Brasilië speel vandag in ‘n vriendskaplike wedstryd teen Japan in Tokio, nadat hulle Suid-Korea verlede week in Seoel 5-0 afgeransel het.
# Atletiek: Vyf mans en vyf vroue is benoem vir Wêreldatletiek se toekennings as baanatleet van die jaar. Drie Amerikaners, Noah Lyles, Rai Benjamin en Cordell Tinch, asook die Keniaan Emmanuel Wanyonyi en Jimmy Gressier van Frankryk is die mans se kandidate. In die vrouekategorie is twee Keniane, Beatrice Chebet en Faith Kipyegon, twee Amerikaners, Melissa Jefferson-Wooden en Sydney McLaughlin-Levrone, en Femke Bol van Nederland benoem. Die ander kategorieë se benoemings word later die maand aangekondig.
# En tennis: Vyf van die wêreld se top tien-mans neem van môre deel aan ‘n winsgewende vertoon-toernooi in Saoedi-Arabië – die sogenaamde Six Kings Slam. Die Spanjaard Carlos Alcaraz, die Italianer Jannik Sinner, die Duitser Alexander Zverev, Novak Djokovic van Serwië, die Amerikaner Taylor Fritz, asook die wêreld-nommer-25, Stefanos Tsitsipas van Griekeland, ding mee om yslike prysgeld van 78-miljoen-rand. Volgens berigte sal sommige van die spelers ook enorme bedrae ontvang om deel te neem. Sinner het Alcaraz in verlede jaar se eindstryd geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….