Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Senuran Muthusamy was die Proteas se groot held op die tweede dag van die eerste toets teen Pakistan in Lahore. Hy het altesaam ses paaltjies geneem in die gasheer se eerste beurt om hulle vir 378 te help uitboul. Pakistan het op 313 vir vyf hervat en Muthusamy het drie paaltjies in ‘n enkele boulbeurt platgetrek. Die reeks van twee wedstryde is die Proteas se eerste van die nuwe Wêreldtoetskampioenskap nadat hulle Australië in Junie verslaan het in die eindstryd van die vorige siklus.
Nog krieketnuus: Die Protea-vroue speel vandag teen Bangladesj in die Wêreldbekertoernooi nadat Australië gister haar greep op die boonste posisie op die punteleer verstewig het met ‘n oorwinning van drie paaltjies oor die mede-gasvrou. Indië het ‘n uitstekende 330 aangeteken toe hul laaste paaltjie in die voorlaaste boulbeurt gekantel het, maar die verdedigende kampioen het die teiken bereik met ‘n boulbeurt en sewe paaltjies oor. Die ander lande tans in die halfeind-posisies is Engeland, Indië en Suid-Afrika, met Nieu-Seeland, Bangladesj, Sri Lanka en Pakistan aan die onderpunt.
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het 34 spelers gekies vir hulle jaareind-toer na Japan en Europa. Die groep sluit die nuwelinge Aidan Ross en Kalani Thomas in, terwyl Dylan Pietsch en Andrew Kellaway na beserings terugkeer. Die losskakel Carter Gordon is ook gekies nadat hy ‘n vrystelling van sy Nasionale Rugbyliga-kontrak verkry het. Australië sal vyf agtereenvolgende toetse speel op die toer: in Tokio teen Japan, in Londen teen Engeland, in Udine teen Italië, in Dublin teen Ierland, en in Parys teen Frankryk.
# Tennis: Nommer 204 in die wêreld, Valentin Vacherot, het sy Franse neef, Arthur Rinderknech, verslaan en die Sjanghai Meesters, sy eerste ATP-toertitel, opgeraap. Die 26-jarige van Monaco was ‘n stel agter, maar het teruggeveg om die laagste gekeurde ATP Meesters Een-duisend-kampioen in die geskiedenis te word. Die tweemalige Grand Slam-kampioen, Coco Gauff, het haar Amerikaanse landgenoot, Jessica Pegula verslaan om die Wuhan Ope in China te wen. Dis Gauff se 11de WTA-enkelspeltitel en haar tweede vanjaar ná haar sege in die Franse Ope.
# En padwedlope: Jacob Kiplimo van Uganda het die 47ste Chicago-marathon in ‘n tyd van twee-uur, twee-minute en 23-sekondes gewen. Kiplimo, wat slegs aan sy tweede marathon deelgeneem het, was tweede in die Londen-marathon. Die Keniane Amos Kipruto en Alex Masai het onderskeidelik tweede en derde geëindig. Hawi Feysa het intussen die eerste Ethiopiese wenner van die Chicago-marathon se vrouewedloop in agt jaar geword, met meer as twee minute se verbetering op haar persoonlike beste tyd om in twee-uur, 14-minute en 56-sekondes te wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….