Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons beging met krieket: Suid-Afrika het haar tweede oorwinning van die Wêreldbekertoernooi vir vroue behaal deur die medegasvrou, Indië, met drie paaltjies te verslaan in Visakhapatnam. Richa Ghosh het 94 van 77 balle aangeteken en Indië is uitgeboul vir 251. Chloé Tryon het drie paaltjies geneem. Die Proteas het op 142 vir ses gewankel toe kaptein Laura Wolvaardt uit is vir 70. Die veelsydige Nadine de Klerk het toe na vore getree met ‘n briljante onoorwonne 84 lopies van net 54 balle om Suid-Afrika te laat wen met sewe balle oor.
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê Wêreldbeker-kwalifisering is steeds in hulle hande in vanaand se deurslaggewende Groep C-kragmeting met Zimbabwe in Durban. Suid-Afrika was boaan die punteleer met 17 punte, maar het drie punte verbeur vir die gebruik van ‘n ontoelaatbare speler teen Lesotho in Maart. Die span is nou gelyk met Benin op 14 punte en agter op doelgemiddeld. Bafana se laaste kwalifiseringswedstryd is Dinsdag teen Rwanda. Williams sê hulle weet wat op die spel is:
# Rugby: Die Springbok-agterlynhelde Sacha Feinberg-Mngomezulu en Damian Willemse is reguit in die Stormers se beginspan ingesluit na hulle terugkeer van internasionale diens. Die Kaapse span speel vanaand in Llanelli, Wallis, teen Scarlets in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Stormers het die seisoen op ‘n hoë noot afgeskop met oorwinnings oor die verdedigende kampioen, Leinster, en die Ospreys. Nog ‘n Springbok, die skrumskakel Cobus Reinach, sal nie vandag speel nie nadat hy eers voor die seisoen van Montpellier by die Stormers aangesluit het.
# Gemengde gevegskuns: Billy Oosthuizen van Suid-Afrika is as die nuwe EFC tussentydse veergewigkampioen gekroon in die WSB EFC-arena in Johannesburg. Die hoofgeveg tussen Oosthuizen en die Zambiër Ken Sekeletu het in omstredenheid geëindig to Sekeletu in die derde ronde gediskwalifiseer is weens herhaalde onwettige houe. Sekeletu het die veergewigtitel in Maart teen Roedie Roets gewen. Oosthuizen, wat ‘n gesoute veteraan is met 15 gevegte in die EFC-kryt, kom nou te staan teen Boyd Allen of Vince Bembe.
# En motorsport: Williams se Spaanse Formule Een-renjaer, Carlos Sainz, dink televisie-dekking moet eerder fokus op wedrenne as op die bestuurders se meisies. Dit volg nadat kykers tydens die naweek se Grand Prix in Singapoer moes kyk na hoëprofiel-vriendinne en beroemde gaste terwyl van die aksie op die baan ignoreer is. Sainz se vordering van laaste tot die tiende posisie is onder meer nie gedek nie. Sy vriendin, die model Rebecca Donaldson, en ander renjaers se meisies het ‘n groot aanlyn-aanhang van hulle eie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….