Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Suid-Afrika se eerste Ultimate Fighter-kampioen, Dricus du Plessis, het vanoggend ‘n helde-ontvangs op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng ontvang. Hy het die verdedigende kampioen van Amerika, Sean Strickland, Sondag in Toronto, Kanada, in ʼn uitdagende geveg van vyf rondes verslaan om die UFC-middelgewigtitel te buit. Du Plessis sê die titel is vir hom ʼn groot stap vorentoe:
# Vervolgens, sokker: Suid-Afrika het vir die Afrikabekertoernooi se laaste 16 in Ivoorkus gekwalifiseer. Hulle telling in die wedstryd teen Tunisië was gelykop sonder enige doele en hulle het tweede geëindig in Groep E met Mali in die eerste plek. Mali se telling teen Namibië was ook gelykop met nul-elk. Intussen was een punt genoeg om die Demokratiese Republiek van die Kongo die tweede plek in Groep F te besorg, met Marokko in die eerste plek na sy sege van een-nul oor Zambië. Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy is tevrede met die vertoning:
# Krieket is volgende aan die beurt: Die Paarl Royals het die Joburg Super Kings op die Wanderers met vyf paaltjies verslaan om hulle plek bo aan die SA20-punteleer te behou. Reeza Hendricks se onoorwonne 79 het gehelp om die tuisspan in hulle 20 boulbeurte tot 168 vir drie te lei. Wihan Lubbe en Dane Vilas se vierdepaaltjie-vennootskap van 95 het egter die besoekers se oorwinning verseker. Die Royals is sterk aanspraakmakers op ʼn plek in die uitspeelronde. Lubbe sê die span se vertoning in die afgelope paar wedstryde was goed:
# Nou rugby: Die Blitsbokke is in Australië vir hierdie naweek se sewestoernooi in Perth. Selvyn Davids voer die groep aan wat twee nuwe spelers insluit, David Brits en Tristan Leyds, wat van die vyftienmanspel oorgeskakel het. Drie spelers keer na die groep terug – die stut James Murphy en die spelskeppers Donovan Don en Ricardo Duarttee. Duarttee is verlede seisoen aangewys as Jong Speler van die Jaar, maar het die wêreldreekstoernooie in Dubai en Kaapstad misgeloop. Hy sê hy is gereed om ʼn verskil te maak:
# En, ons sluit af met tennis: Die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, speel tans teen die Amerikaanse tiener Coco Gauff vir ‘n plek in die eindstryd van die Australiese Ope. Sabalenka het verlede jaar in die eindstryd van die Amerikaanse Ope op Flushing Meadows met drie stelle teen Gauff verloor. Sy het reeds 12 opeenvolgende Australiese Ope-wedstryde gewen en ses keer agtereenvolgens deurgedring na Grand Slam-halfeindstryde. Gauff het reeds 12 agtereenvolgende Grand Slam-wedstryde gewen. Vandag se wenner speel teen Zheng Qinwen van China of die Oekraïnse kwalifiseerder, Dayana Yastremska. Nie een van dié twee het al voorheen ‘n Grand Slam-eindstryd gehaal nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….