Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika het Nieu-Seeland in Indore, Indië, met ses paaltjies verslaan vir hul eerste oorwinning op die Wêreldbekertoernooi vir vroue. Nonkululeko Mlaba het vier paaltjies geneem toe die Proteas die Wit Varings vir 231 uitgeboul het. Tazmin Brits het daarna 101 bygedra en die eerste vrou geword om vyf eendaghonderdtalle binne ‘n jaar aan te teken. Sy het ‘n vennootskap van 159 lopies met Suné Luus gedeel, terwyl Suid-Afrika die wenteiken bereik het met 55 balle oor. Die Protea-vroue het met tien paaltjies verloor in hulle openingswedstryd teen Engeland.
# Rugby: Dertien Springbokke, insluitend Handrè Pollard, Wilco Louw en Canan Moodie, is ingesluit in die Bulle se groep van 31 spelers vir die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryde teen Ulster, Connacht en Glasgow Warriors. Pollard is kan sy tweede buiging vir die span maak nadat weer van Leicester Tigers by die Bulle aangesluit het. Kaptein Marcell Coetzee is uit nadat hy nie ‘n kopbeserings-evaluering geslaag het nie, terwyl Kurt-Lee Arendse ‘n dyspierbesering het. Afrigter Johan Ackermann hoop om die Bokke vinnig te integreer:
Die Stormers sal intussen vir die afsienbare toekoms sonder hulle Springbok-vaskopstut, Neethling Fouché, moet klaarkom nadat hy sy arm gebreek het in Vrydag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ospreys in Kaapstad. Nog ‘n Bokstut, Frans Malherbe, sukkel met ‘n rugbesering. Afrigter John Dobson sê die goeie nuus is dat die Bok-agterspelers Sacha Feinberg-Mngomezulu, Damian de Allende en Cobus Reinach binnekort by hulle sal aansluit na hulle oorwinning in die Rugbykampioenskap. Die Stormers is tans tweede op die punteleer na die Bulle.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê sy spelers verdien dit om aan volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi deel te neem nadat hulle die afgelope twee jaar baie hard gewerk het. Fifa het verlede maand drie punte van Suid-Afrika afgetrek omdat hulle ‘n geskorste speler teen Lesotho laat opdraf het. Broos sê hulle moet hul laaste twee kwalifiseerders Vrydag teen Zimbabwe en volgende Dinsdag teen Rwanda wen. Hy sê hy het vertroue in sy spelers om die toernooi te bereik:
# En motorsport: Die sewemalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Marquez, gaan die volgende twee wedrenne in Australië en Maleisië misloop weens ‘n besering. Die Ducati-jaer het ‘n beenbreuk en ‘n ligamentbesering aan sy regterskouer opgedoen in ‘n botsing tydens Sondag se Indonesiese Grand Prix, maar dit vereis nie ‘n operasie nie. Die 32-jarige Spanjaard kan steeds aan volgende maand se Grand Prix in Portugal en Valencia deelneem, maar het benadruk hy sal nie oorhaastig wees met sy herstel nie en net terugkeer as hy 100-persent fiks is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….