Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-senter Damian de Allende verwag ‘n taai en fisiese stryd teen Argentinië wanneer die Rugbykampioenskap Saterdag op Twickenham afgesluit word. Suid-Afrika het verlede naweek in Durban ʼn skitterende oorwinning van 67-30 oor die Pumas behaal. Die Bokke is boaan die Kampioenskaps-punteleer. Hulle het een punt meer as Nieu-Seeland wat vroeër Saterdag in Perth teen Australië uitdraf. De Allende sê albei spanne sal goed ondersteun word in Londen, al is dit neutrale grond:
Nog rugbynuus: Die Leeus verwelkom drie sleutel-spelers terug voor Sondag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Zebre in Italië. Die gereelde kaptein, Francke Horn, die uitstekende doelskopper Chris Smith en die senter Eduard Keyter is na beserings terug in die Johannesburgse span wat verlede week in die openingsronde teen Cardiff verloor het. Zebre het die Skotse span Edinburgh in die eerste ronde geklop en die Leeus se verdedigings-afrigter, Jaque Fourie, besef die Italianers gaan Sondag ‘n groot uitdaging op hulle tuisveld wees.
# Krieket: Die ervare Protea-kolwer Tazmin Brits glo haar jong spanmaat, Karabo Meso, sal die wêreld se aandag trek op die Wêreldbekertoernooi vir vroue in Indië en Sri Lanka. Daar word verwag dat die 18-jarige paaltjiewagter in haar eerste groot toernooi sal speel nadat sy haar internasionale buiging op 16-jarige ouderdom gemaak het. Die 34-jarige Brits sê sy het Meso se groei persoonlik waargeneem by die Lions in Johannesburg en glo die toernooi sal haar op die wêreldverhoog plaas. Die Proteas begin hulle veldtog môre teen Engeland.
Australië het intussen die verdediging van hul titel afgeskop met ‘n oortuigende sege van 89-lopies oor Nieu-Seeland in Indore. Die veelsydige Ashleigh Gardner het 115 van 83 balle aangeteken wat haar tweede eendag-honderdtal is, en bygedra tot Australië se telling van 326. Kaptein Sophie Devine se 112 was daarna nie genoeg nie en Nieu-Seeland is uitgeboul vir 237 nadat Sophie Molineux en Annabel Sutherland elkeen drie paaltjies platgetrek het. Bangladesj en Pakistan speel vandag in Colombo.
# En tennis: Die veteraan-Fransman Gaël Monfils beplan om aan die einde van volgende jaar uit te tree. Die 39-jarige voormalige wêreld-nommer-ses het in sy loopbaan 13 ATP-toertitels ingepalm, die laaste in Auckland, Nieu-Seeland, in Januarie – byna twee dekades na sy eerste titel in Pole in 2005. Monfils het twee Grand Slam-eindstryde bereik – die Franse Ope in 2008 en die Amerikaanse Ope agt jaar later. Die gewilde speler sê hy koester die voorreg dat hy sy passie kon omskep in ‘n loopbaan van 21-jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….