Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbokke kan die eerste keer ooit twee agtereenvolgende Rugbykampioenskaps-titels inpalm as alles Saterdag volgens plan verloop. Suid-Afrika speel op Twickenham in London teen Argentinië na oortuigende oorwinnings oor die All Blacks en die Pumas na gemengde uitslae in die die eerste drie rondes. As die Bokke Los Pumas weer klop, sal selfs ‘n oorwinning met 100-punte vir die All Blacks oor die Wallabies vroeër Saterdag nie genoeg wees nie. As Suid-Afrika egter verloor, sal die uitslag van die kragmeting tussen Nieu-Seeland en Australië die kampioen bepaal.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê Fifa se besluit om drie punte by Bafana Bafana af te trek in die Wêreldbeker-kwalifiseerders, is uiters teleurstellend. Suid-Afrika word gestraf omdat hy in Maart ‘n speler wat nie kwalifiseer nie, Teboho Mokoena, in die wedstryd teen Lesotho gebruik het. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging moet 215-duisend-rand betaal, terwyl Mokoena ʼn waarskuwing ontvang het. Mckenzie sê sy departement sal ʼn deeglike ondersoek instel na die onbevoegdheid wat tot die straf gelei het.
# Sokker: Suid-Afrika se Amajita het met 2-1 die onderspit gedelf in hulle Groep E-openingswedstryd van die Fifa Onder-20 teen Frankryk in Chile. Anthony Bermont het Frankryk se eerste doel in die 25ste minuut aangeteken om hulle te laat voorloop. Suid-Afrika het die telling gelyk gemaak danksy ‘n strafskop wat Jody Ah Shene in die 33ste minuut verdoel het. Frankryk se ster-voorspeler Lucas Michal se doel in die 80ste minuut was die wendoel. Amajita sal Vrydag terug in aksie wees teen Nieu-Kaledonië en pak Amerika Sondag.
# Netbal: Die Noordwes-universiteit se Arende is die Varsity-kampioen nadat hulle die verdedigende kampioen, die Vrystaatse Kovsies, in die eindstryd in Bloemfontein 57–49 verslaan het. Dis die Arende se derde titel en hulle eerste sedert 2016. Die Kovsies het die pas aangegee en die eerste drie kwarte van die wedstryd oorheers. Die Arende het in die laaste kwart met vasberadenheid en selfbeheersing gereageer en hul teenstanders se telling met druk en klinies uitgevoerde aanvalle verbygesteek. Afrigter Elsunet du Plessis loof haar spelers se herstelvermoë en geestelike krag.
# En krieket: Engeland se afrigter, Charlotte Edwards, verwag minstens ‘n plek in die halfeindronde van die eendag-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka, wat vandag begin met die wedstryd tussen die twee gasvrou-spanne in Guwahati. Engeland se eerste wedstryd is Vrydag teen Suid-Afrika. Engeland het teen Australië verloor in die eindstryd van die vorige toernooi in 2022. Edwards hoop hulle oorwinnings in opwarmingswedstryde teen Australië en Indië sal hulle selfvertroue gee. Die agt spanne speel elk een keer teen mekaar en die beste vier spanne gaan deur na die halfeindronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….