Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-stut Boan Venter, wat aanvanklik ‘n plaasvervanger was, is môre in die opdrafspan van die Rugbykampioenskap-kragmeting teen Argentinië in Durban. Dit volg nadat Ox Nche weens ʼn ligte besering aan die span onttrek het. Jan-Hendrik Wessels sal die plaasvervanger-stut wees met Marco van Staden as haker op die bank. Daar is slegs twee punte verskil tussen Australië en Argentinië wat onderskeidelik eerste en laaste op die punteleer is, met twee rondes wat oorbly. In die ander wedstryd môre pak die All Blacks die Wallabies op Eden Park.
Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith bevestig hulle verwag môre in Durban ʼn taai en fisiese stryd teen Argentinië. Smith sê hulle fokus die naweek op wat hulle moet doen om in die wedloop te bly en hul titel te verdedig:
Argentinië het intussen drie veranderinge aangebring aan hul span wat die Bokke pak. Die voormalige kaptein Pablo Matera keer as flank terug na die opdrafspan nadat hy in Sydney op die bank begin het in hul oorwinning oor Australië in die vierde ronde. Franco Molina en Lucas Paulos is die slotte. Die Pumas se afrigter Felipe Contepomi het ʼn 6-2-verdeling op die bank gekies met Simon Benitez Cruz en Tomas Albornoz as plaasvervanger-agterspelers.
# Swem: Die viermalige Olimpiese medaljewenner, Chad le Clos, het sy deelname aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Kortbadkampioenskap in Pietermaritzburg op ʼn wen-noot begin. Die 33-jarige swemmer wat na ʼn rugbesering weer in aksie is, het die 50-meter-vlinderslag in 22,79 sekondes gewen en die 100-meter-vryslag in 47,55 sekondes. Die 18-jarige Jessica Thompson het die vroue se 50-meter-vlinderslag en 100-meter-vryslag gewen, en Lara van Niekerk die vroue se 100-meter-vlinderslag. Le Clos sê hy is op ʼn goeie plek:
# En ten slotte: Netbal: Die Suid-Afrikaanse onder-21-span het geskiedenis gemaak deur die eerste keer ooit ʼn plek in die Netbal Jeug-wêreldbeker se halfeindronde in Gibraltar te bespreek. Die Baba-Proteas het die Cook-eilande in die kwarteindronde met 79–45 afgeransel. Suid-Afrika se vorige beste by die toernooi was ʼn vyfde plek. Die Baba-Proteas takel vandag in die halfeindronde die viermalige wêreldkampioen, Australië. Die verdedigende kampioene, Nieu-Seeland, kom in die ander halfeindwedstryd teen Engeland te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….