Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: Die Springbokke Deon Fourie, Damian Willemse en Manie Libbok sal nie beskikbaar wees wanneer die Stormers op die 17de van volgende maand in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Haaie speel nie. Die span van Kaapstad het ‘n onderbreking van drie weke voor die hervatting van hulle VRK-veldtog, nadat hulle vir die ronde van 16 in die Kampioenebeker gekwalifiseer het. Hulle kom in April in Kaapstad teen die verdedigende kampioen, La Rochelle, te staan. Die internasionale spelers is op ʼn verpligte ruskans van vyf weke, insluitend drie weke weg van die spel en twee weke se oefening.
# Vervolgens, krieket: Durban’s Super Giants het ʼn bonuspunt-oorwinning behaal toe hulle M-I Cape Town met 36 lopies verslaan het in hulle SA20-wedstryd op Nuweland in Kaapstad. Matthew Breetzke het 48 aangeteken as deel van die besoekers se 157 vir ses. Die tuisspan is daarna tot 121 vir nege beperk, met Noor Ahmad en Marcus Stoinis wat elkeen drie paaltjies platgetrek het. Danksy hierdie oorwinning is die Super Giants nou tweede op die punteleer, maar afrigter Lance Klusener sê hulle kolfwerk moet steeds verbeter:
# Sokker is volgende aan die beurt: Die verdedigende kampioen, Senegal, het Guinee twee-nul verslaan en spog nou met drie seges uit drie wedstryde in die Afrikabeker-toernooi se Groep C. Albei spanne is deur na die laaste 16. Mauritanië het ‘n opskudding veroorsaak toe hulle 2019 se wenner, Algerië, met ʼn naelskraapse oorwinning van een-nul en ʼn geskiedkundige plek in die uitklopfase behaal het. Kameroen het in die doodsnikke teruggeveg en twee doele aangeteken om Gambië met drie-twee te verslaan en die laaste 16 te haal. Angola is eerste in Groep D na hulle sege van twee-nul oor Burkina Faso, wat tweede is.
# Nou iets oor tennis: Daniil Medvedev van Rusland is deur na die halfeindronde van die Australiese Ope ná ‘n taai oorwinning van vyf stelle oor Hubert Hurkacz van Pole. Die derde gekeurde Medvedev het 7-6, 2-6, 6-3, 5-7, 6-4 gewen in net minder as vier uur. Hy speel volgende teen die wenner van die laaste kwarteindstryd tussen die Spanjaard, Carlos Acaraz, en die Duitser, Alexander Zverev. Medvedev sê dit was ‘n taai stryd:
# En, ons sluit af met motorsport: Madrid gaan Barcelona in 2026 vervang as gasheer vir die Spaanse Formule Een Grand Prix, met die kontrak wat tot 2035 duur. Gedeeltes van die nuwe baan sal deur die strate loop, en altesaam 110-duisend toeskouers sal per dag toegelaat kan word. Dit kan volgens berigte tot 140-duisend vergroot word, wat die baan een van die grootste op die F1-almanak sal maak. Die president en uitvoerende hoof van die sport, Stefano Domenicali, sê die aankondiging is die begin van ‘n opwindende nuwe hoofstuk vir F1 in Spanje.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….