Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Wayde van Niekerk, wat deel was van Suid-Afrika se 4×400 meter-aflosspan, is vol lof vir sy spanmaats by die Wêreld-atletiekkampioenskap waar hulle die bronsmedalje verower het. Span SA se Lyth Pillay, Zakithi Nene, Udemy Okon en Van Niekerk was derde na Botswana en Amerika. Van Niekerk sê ná ‘n lang medalje-droogte, was dit ʼn voorreg om deel van die span te wees, en hy is dankbaar vir sy spanmaats se motivering.
# En nou rugby: Die Springbokke het heelagter Willie le Roux ingesluit by hul groter oefengroep in Durban, waar hulle voorberei om Argentinië te takel in Saterdag se voorlaaste Rugbykampioenskapswedstryd op Kingspark. Die 36-jarige Le Roux wat nie in die groep van 33 vir die laaste twee Kampioenskapswedstryde teen die Pumas was nie, oefen tot Woensdag saam met die span. Bokafrigter Rassie Erasmus sê hulle probeer oefen soos hulle speel, en met Le Roux in die kamp, kan hulle die gehalte van hul oefensessies verbeter.
# Nog rugbynuus is dat die Australiese stut Allan Alaalatoa met sy terugkeer na die Wallabies gesê het sy span sien Edenpark as net nog ‘n ander rugbyveld. Hulle hoop om Saterdag Nieu-Seeland se 31 jaar onoorwonne rekord op die ikoniese Auckland-stadion te beeïndig. Die All Blacks het in 1994 laas op Edenpark verloor, maar het Saterdag ‘n groot taak om daardie rekord te verdedig teen Australië as die Rugbykampioenskap-voorlopers. Nieu-Seeland is in hulle laaste wedstryd in Wellington, in ‘n rekord-nederlaag van 43-10 deur die Springbokke verslaan. Alaalatoa sê hulle fokus op hulleself:
# Tennis: Die Amerikaner Taylor Fritz het Span Wêreld na hul derde Laverbeker-titel in vier jaar in San Francisco gelei. Span Wêreld het Span Europa onder aanvoering van Spanje se Carlos Alcaraz met 15-9 geklop, en daarmee aan Andre Agassi sy eerste oorwinning as kaptein besorg. Fritz was die ster en het groot oorwinnings oor Alcaraz en Alexander Zverev van Duitsland behaal. Volgende jaar se aanbieding van die kompetisie sal by Londen se O2 Arena plaasvind. Agassi was vol lof vir sy span:
# En ten slotte swem: Span Suid-Afrika se Paralimpiese swemmer, Christian Sadie, het silwer gebuit in die mans se S13-200-meter individuele wisselslag op die eerste dag van die Wêreld Para-swemkampioenskap in Singapoer. Die 27-jarige Sadie het die Afrika-rekord in die eindpoging tot twee-minute-04,03-sekondes verbeter. Inaki Basiloff van Argentinië het goud opgeraap en Aleksei Ganiuk, ʼn neutrale Paralimpiese atleet, het brons gewen. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Nathan Hendricks, was sewende in die mans S13-100-meter vlinderslag. Hy het egter in die uitdunne ʼn Afrika-rekord van 58,46-sekondes opgestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….