Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Aimee Barrett-Theron is vanaand in beheer van die eerste halfeindstryd in die Vroue-Wêreldbeker tussen die hersende kampioen, Nieu-Seeland, en Kanada by die Ashton Gate Stadion in Bristol, England. Dit is 49ste wedstryd met die fluitjie vir Barrett-Theron en ‘n rekord 12de Wêreldbekerwedstryd. Maggie Cogger-Orr van Nieu-Seeland is in beheer van die tweede halfeindstryd tussen Frankryk en die gasvroue, England. Die voorsitter van die Wêreldrugbywedstrydbeamptekomitee, Su Carty, sê Barrett-Theron en Cogger-Orr sal die wedstrydbeamptes met trots en onderskeiding verteenwoordig.
Nog rugbynuus: Griekwas se begin-vyftiental vir môre se Curriebeker-eindstryd teen die Leeus toon net een verandering van die span wat die Cheetahs in verlede week se halfeindstryd in Kimberley verslaan het. Die slot Derik Pretorius vervang Malembe Mpofu, wat nie sy kopbeseringstoets geslaag het nie, terwyl Marco de Witt dekking op die bank bied. Phumzile Maqondwana is die reserwe-losvoorspeler. Die Leeus word as volslae gunsteling beskou om die titel tuis in Johannesburg te beklink nadat hulle twee weke gelede die Noord-Kaapse span 37-7 verslaan het in ‘n ronde-wedstryd.
# Krieket: Die vrouespanne van Suid-Afrika en Pakistan keer vandag terug na Lahore vir die tweede eendagwedstryd, nadat die Proteas die eerste ontmoeting met agt paaltjies gewen het. Die gasvroue het ‘n goeie 255 vir vier aangeteken, maar Marizanne Kapp en Tazmin Brits het albei onoorwonne honderdtalle aangeteken en die besoekers gehelp om maklik die teiken te bereik. Die laaste eendagwedstyd word Maandag op dieselfde veld gespeel, waarna die spanne hulle opwarmingswedstryde begin vir die Eendagwêreldbekertoernooi wat die 30ste in Indië en Sri Lanka begin.
# Tennis: Die halfeindstryd van die Billie Jean Kingbeker in China het aangebreek. Die verdedigende kampioen, Italië, en Oekraïne sal mekaar vandag pak na kwarteind-oorwinnings oor onderskeidelik die gasvroue en Spanje. Môre speel Amerika teen Groot-Brittanje. Amerika het Kazakstan 2-1 uitgeskakel. Emma Navarro het Yulia Putintseva geklop en Elena Rybakina het die telling gelykop gemaak deur Jessica Pegula te verslaan, waarna Pegula en Taylor Townsend vir Rybakina en Putintseva verslaan het in die beslissende dubbelswedstryd. Engeland het albei sy enkelwedstryde teen Japan gewen. Die eindstryd word Sondag gespeel.
# En ten slotte: Motorsport: Oscar Piastri sê McLaren het “baie dinge opgeklaar” oor spaninstruksies na die besluit om hom te vra om sy tweede plek op te gee aan Lando Norris, sy spanmaat en titelmededinger, by die Italiaanse Formule Een Grand Prix. Piastri, wat probeer om die eerste Australiese wêreldkampioen te word sedert Alan Jones in 1980, het die span se besluit gedurende die wedren in Monza bevraagteken. Hy het voor hierdie naweek se Azerbeijan Grand Prix, gesê hulle het “goeie gesprekke” gehad en die span is nou in ooreenstemming oor hoe die volgende agt wedrenne benader moet word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….