Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Die wêreldrekordhouer in die 400-meter, Wayde van Niekerk, en sy Suid-Afrikaanse landgenoot Sinesipho Dambile neem vanmiddag deel aan die halfeindronde van die 200-meter op die wêreldkampioenskap in Tokio, Japan. Van Niekerk, wat tydens verlede jaar se Olimpiese Spele in Parys na die korter wedloop oorgeskakel het, het tweede gekom in sy uitdun terwyl Dambile derde was in syne. Hulle sal strawwe teenstand kry van naellopers soos Bryan Levell van Jamaika, Tapiwanahe Makarawu van Zimbabwe en die Amerikaner Courtney Lindsey, wat die vinnigste kwalifiserende tye behaal het.
# Gholf: Die Suid-Afrikaners Danie van Niekerk en James Mack het die pas aangegee met rondes van vier onder baansyfer 67, en loop gesamentlik voor na die eerste ronde van die Sunbet Challenge op die Umhlali-buiteklub in KwaZulu-Natal. Hulle is een hou voor hul landgenoot Lyle Rowe en Eric Wowor van Indonesië. Van Niekerk, wat probeer om sy eerste sege op die Sonskyn-toer te behaal, sê hy het homself in ‘n sterk posisie geplaas om die toernooi oor 54 putjies te wen:
# Krieket: Die Protea-kolwer Dewald Brevis sê die reuse-koopprys wat hy in die SA20 losgeslaan het, gaan hom nie verander nie en hy gaan steeds op die veld om homself te geniet. Pretoria Capitals het die 22-jarige gekoop vir ‘n allemintige 16,5-miljoen-rand gedurende verlede week se spelersveiling nadat hy die eerste drie seisoene vir die verdedigende kampioen, M-I Cape Town, gespeel het. Brevis, wat in Gauteng grootgeword het, beskryf sy tyd in Kaapstad as baie spesiaal, maar is opgewonde om na sy tuisstad terug te keer.
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het sy groep van 34 bekendgemaak wat Nieu-Seeland in die laaste twee rondes van die Rugbykampioenskap gaan pak. Die stut James Slipper kan sy 150ste verskyning maak en aansluit by Alun-Wyn Jones van Wallis en die All Black, Sam Whitelock, wat die enigste spelers is wat nog hierdie mylpaal kon bereik. Die skrumskakel Jake Gordon, wat die eerste vier wedstryde van die kampioenskap misgeloop het, is terug na ‘n besering. Nog ‘n skrumskakel, Ryan Lonergan, is die enigste nuweling.
# En tennis: Oekraïne, wat die eerste keer deelneem aan die Billie Jean Kingbeker-vrouekompetisie, is deur na die halfeindronde na ‘n oorwinning oor Spanje in China. Marta Kostuyk en Elina Svitolina het met Jessica Bouzas Maneiro en Paula Badosa afgereken. Oekraïne speel volgende teen die verdedigende kampioen, Italië, nadat Elisabetta Cocciaretto en Jasmine Paolini hard moes werk om die gasvroue uit te skakel. Kazakstan speel vandag in die kwarteindronde teen Amerika en Japan teen Groot-Brittanje. Die halfeindstryde word môre en Saterdag gespeel en die eindstryd Sondag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….